Local sportSport

Bloubul klubliga-eindstryde wys rugby op dié vlak is steeds gewild

Aksie op en van die veld af by die afgelope Saterdag se Bloubul klub-eindstryde in vier verskillende ligas het bewys dat klubrugby in dié unie steeds ‘n groot gunsteling vir rugbyliefhebbers is.

Hoewel klubrugby oral in Suid-Afrika onder druk is, het Saterdag se klugliga-eindstryde op Loftus Versfeld bewys dat rugby op dié vlak plaaslik steeds rede het om opgewonde te wees oor die toekoms.

Behalwe vir die eindstryd in die Super Klubliga, waaraan spanne uit die Luiperds- en Valke se provinsies ook deelgeneem het, het die res van die Blou Bulle se klubligas ook Saterdag by Loftus Versfeld op ‘n hoogtepunt geëindig.

Ondersteuenrs van klubs op elke vlak in die Blou Bulle se jurisdiksie-gebied het die gure weer op ‘n koue en winderige dag in groot getalle trotseer om hul spanne in die eindstryde van vier verskillende ligas te ondersteun.

Korrektiewe Dienste was die suksesvolste klub in die laer ligas, met drie spanne wat die eindstryde gehaal het, terwyl twee van dié klub se spanne as kampioene gekroon is.

Tuine se Grizzlies het ook twee spanne in die eindstryde gehad, maar slegs hul derde span kon die paal haal en silwerware vir die klub wen.

Ook Transnet Parke het met twee finaliste gespog, terwyl sleg een span as kampioen huis toe is.

* In die Presidentsliga, waar ‘n aantal Carltonbeker-klubs sowel as Rustenburg Impala se tweede spanne teen ‘n paar top klubs uit die Blou Bulle se gewese Eersteliga meegeding het, is Impala se tweede span uiteindelik as kampioen gekroon.

Impala het ‘n begeesterde span van Tuine se Grizzlies met 35-28 in ‘n opwindende wedstryd geklop.

Dit was ‘n wedstryd van twee helftes. Die Grizzlies het in die eerste helfte met groot geesdrif gespeel en drie keer gaan druk om rustyd met 21-7 voor te loop.

Impala het egter in die tweede helfte stadig maar seker terug gekom in die wedstryd en teen die einde het dit afgestuur op ‘n spannende tweestryd. Tuine se Grizzlies het sake vir hulself bemoeilik met gebrekkige dissipline en twee geelkaarte teen hulle in die tweede helfte het Impala gehelp om hul makliker in te haal.

Die manne uit die Noodweste het die wendrie vyf minute voor die eindfluitjie gaan druk.

* In die Presidentsliga se tweede afdeling het ABE Midas Naka Bulle se derde span gesorg vir silwerware in dié klub se vertoonkas, toe hulle in die eindstryd met Tuks se Pumas afgereken het. Die eindtelling was 39-22.

* In die B-liga het Korrektiewe Dienste sake oorheers, terwyl die “nuwe” Pretoria Rugbyklub twee keer die aftog teen die Groen Dood – soos daar soms na Korrektiewe Dienste se spanne verwys word  – moes blaas.

Korrektiewe Dienste se eerste span het Pretoria met 37-24 geklop en in die wedstryd tussen dié twee klubs se tweede spanne het die Likkewane met 32-14 gewen.

Tuine se Grizzlies was suksesvol in die derde spanne se eindstryd toe hulle Korrektiewe Dienste se derdes met 30-14 verslaan het. Dié oorwinning was ook ‘n emosionele ervaring vir die spelers van Tuine, wat vroeër vanjaar een van hul spanmaats, Neels Rademeyer, aan die dood moes afstaan nadat hy aan ‘n hartaanval tydens ‘n wedstryd gesterf het. Hulle het die oorwinning aan hom opgedra.

* Die eindstryd in die C-liga tussen die eerste spanne van Transnet Parke en Cullinan het vir die grootste drama van die dag gesorg. Toe die eindfluitjie blaas was die twee spanne met 14-elk gelykop en ekstra tyd moes toegelaat word om ‘n wenner te bepaal.

Die spanning het opgebou toe elke span in dié periode weer gaan druk het, maar nie een van dié drieë is verdoel nie. Die wenner is uiteindelik in die laaste minuut van dié klipharde stryd bepaal deur ‘n strafdoel wat deur Transnet Parke se stelskopper deur die pale gejaag is om die eindtelling op 22-19 in die guns van die manne van Jan Niemandpark.

Transnet Parke se tweede span moes egter die knie buig voor Stanza, wat as kampioen in dié liga gekroon is met hul oorwinning van 21-0.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button