Skoolseuns van Pretoria skiet teen wêreld se bestes
Twee leerlinge van Hoërskool Wonderboom in Pretoria sal hierdie week hul skietvernuf toets teen die wêreld se beste Veldteiken skuts.

Hoewel Veldteikenskiet nie meer amptelik as ‘n sportsoort by skole aangebied word nie, is daar twee seuns by Hoërskool Wonderboom wat steeds op klubvlak só goed presteer in hierdie sport, dat hulle nou die geleentheid gaan kry om hul vaardigheid teen die wêreld se beste juniors te toets.
Die 16-jarige Devon du Toit en sy 15-jarige spanmaat, Marnus Deysel, is hierdie week in Oos-Europa, waar hulle in Pole sal deelneem aan die Veldteikenskiet wêreldkampioenskap.
Du Toit en Deysel is die enigste twee juniors wat saam met die nasionale span sal reis om aan die kampioenskap te gaan deelneem.
In Veldteikenskiet moet skuts ‘n aantal val-teikens op afstande tussen 9 meter en 50 meter probeer platskiet. Hulle maak gebruik van kragtige windbuks gewere wat elk met ‘n gas-silinder toegerus is.
Die twee seuns is in die gelukkige posisie dat die skietbaan op Wonderboom se skoolterrein deesdae deur hul klub gebruik word, wat oefengeleentheid vergemaklik.
Vir Du Toit, wat reeds as junior nasionale kampioen gekroon is, het sy formele deelname aan Veldteikenskiet drie jaar gelede in sy graad agt jaar Wonderboom begin. Hy was egter reeds op ‘n jong ouderdom versot op skiet en jag ook graag saam met sy pa. Op sy eerste suksesvolle jagtog het hy ‘n Blouwildebees platgetrek.
Volgens Du Toit oefen hy twee keer per week en hy glo sy toewyding sal binnekort vrugte afwerp. As top junior in die land het hy reeds gekwalifiser vir Protea-kleure en hy glo dat hy binnekort saam met die senior manne sal kan skiet.
Deysel is tans in graad nege. Hy het aan Rekord vertel dat hy gefassineerd was met “alles wat kan skiet” vandag hy kan onthou. Hoewel hy ook graag jag en op 13 al ‘n rooibok geskiet het, bied Veldteikenskiet aan hom die geleentheid om sy liefde vir skiet as deel van ‘n amptelike sportsoort uit te leef.
Hy hou van die dissipline wat gepaard gaan met die sport en droom ook reeds van insluiting in die senior nasionale span.
Intusen sal Du Toit en Deysel hierdie week die geleentheid kry om hulself teen die wêreld se beste juniors te toets. In dié sport sluit die junior kategorie alle skuts onder 21 jaar in, wat beteken dat dié twee Wonnies in Pole teen skuts sal meeding wat heelwat ouer as hulself is.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

