Jong rugbyspelers van Pretoria presteer in Frankryk
Die twee jong Pretorianers wat verlede jaar uit die Blou Bulle se o.20 klubliga deur ‘n Franse professionele klub raakgesien en gekontrakteer is, het groot sukses behaal in hul eerste Europese seisoen.

Sowat ‘n jaar gelede het Rekord berig oor twee jong rugbyspelers van Pretoria wat uit ‘n junior klubspan deur ‘n Franse klub gewerf is om daar te gaan rugby speel.
Intussen het Heath Backhouse, oud leerling van Hoërskool Montana, en Hendré Eloff, oud leerling van Hoërskool Garsfontein, hul eerste seisoen as professionele spelers by die Biarritz Olympique klub in Frankryk met groot sukses voltooi. Dié sukses sal waarskynlik vir hulle verdere deure oopmaak in Europa, wat as bewys dien dat rugbyspelers in Suid-Afrika deesdae nie noodwendig die tradisionele roete hoef te volg as hulle drome het oor ‘n loopbaan af professionele spelers nie.
Rekord het onlangs met Backhouse gesels tydens sy vakansie in Suid-Afrika kort voor hy na Frankryk sou terugkeer vir sy tweede seisoen by Biarritz.
Hoewel Backhouse en Eloff nie as skoolseuns professionele kontrakte met enige plaaslike unie kon losslaan nie, het hulle vir Centurion Rugbyklub in die Blou Bulle se o.20 klubliga uitgedraf en met puik spel in dié liga vir hulself naam gemaak. Nadat hulle Centuruion gehelp het om in 2016 die Blou Bulle se o.20 klubliga te wen is hulle is in dié liga raakgesien deur werwers van Biarritz, wat hulle na Frankryk gelok het.
Backhouse het aan Rekord gesê dat hulle hard moes werk om hulself in Biarritz se junior span (o.23) te vestig, maar dat hulle beide uiteindelik hul bydrae gelewer het om dié span te help om hul plaaslike liga te wen. Biarritz se o.23’s, vir wie Backhouse en Eloff steeds in die 2018/2019 seisoen sal uitdraf, sal nou ná hul promosie in die top Elite liga teen Franse Pro14 klubs se juniors speel.
Die nuwe Europese seisoen vir die junior ligas begin vroeg in September en die twee jong Pretorianers is reeds hard aan die werk in hul voorseisoen program om voor te berei vir die nuwe strawwer liga.
Volgens Backhouse is klubrugby in Frankryk baie hard en fisiek. Dis egter oor die algemeen heelwat stadiger as in Suid-Afrika, aangesien wedstryde meestal in gure weer en op nat velde gespeel word. Dit is nie vreemd om ligawedstryde in die Franse seisoen in toestande onder vriespunt te speel nie.
Hy het ook vertel dat hulle vinnig besig is om die Franse taal onder die knie te kry, aangesien hulle weekliks lesse moet bywoon om hul Frans te verbeter.
Biarritz is geleë in die suidweste van Frankryk naby die Spaanse grens. Backhouse het vertel dat rugby steeds die gewildste sportsoort in die suide van Frankryk is.
Behalwe vir hul reise oor die lengte en breedte van Frankryk om rugby te speel, kry Bachouse en Eloff ook die geleentheid om ander dele van Europa te sien. Weens hul stad se ligging is gewilde vakansiebestemmings soos San Sebastián in die noorde van Spanje maklik bereikbaar.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

