Jong Grizzlies en hul pa’s slaap op rugbyveld
Die heel jongste rugbyspelers by Tuine se Grizzlies Jeugklub het onlangs die geleentheid gekry om ‘n unieke kamp-ervaring op die rugbyveld saam met hul pa’s te beleef.
Die Grizzlies se Junior Rugbyklub het verlede week ‘n opwindende projek aangebied, waardeur dié klub se jongste lede en hul pa’s die geleentheid gekry het om kwaliteit tyd saam deur te bring.
Die Grizzlies Jeugklub se onder-6 en onder-7 Bulletjies het verlede Vrydagaand as deel van ‘n unieke pa-en-seun kamp hul tente op die klub se C-veld opgeslaan om die aand daar saam met hul pa’s deur te bring.
Om dié geleentheid nog meer gesellig te maak, het ‘n groep van die seuns se teenstanders by die Harlequins Jeugklub op uitnodiging ook saam met hul pa’s gedeel in die pret.
Nadat die verrigtinge Vrydag teen laatmiddag met skriflesing en gebed geopen is, het die seuns en hul pa’s begin om hul tente langs die C-veld op te slaan.
Daarna is boeresport gehou. Tradisionele items soos kruiwastoot, driebeenresies en waterbalon-gooi was deel van die program. Die seuns het ook die geleentheid gekry om teen hul pa’s raakrugby te speel.
“Sommige van die seun het egter soms vergeet dat hulle raakrugby speel en hulle het hul pa’s met netjiese laagvatte probeer stuit” het een van die organiseerders aan Rekord vertel.
Die klub het vure en bykosse beskikbaar gestel en die seuns kon Vrydagaand saam met hul pa’s vleis braai.
Die organiseerders van dié inisiatief is oortuig daarvan dat dit nie net aan die pa’s en seuns geleentheid gebied het om kwaliteit tyd saam deur te bring nie, maar vriendskappe is ook tussen die seuns onderling én tussen die pa’s gesmee.
Saterdagoggend is die kamp weer afgesluit met skriflesing en gebed.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
