Naka Bulle klop Centurion, QBR val vas in die Bosveld
Ná hul oorwinning oor Centurion kan ABE Midas Naka Bulle eerskomende naweek kwalifiseer vir volgende jaar se nasionale Gouebeker toernooi as hulle ook met Quins-Bobbies kan afreken.
ABE Midas Naka Bulle het die afgelope naweek daarin geslaag om die gaping tussen hulself en hul twee mededingers om in 2020 aan die nasionale Gouebeker klubkampioenskap deel te neem te vergroot.
Met hul bonuspunt oorwinning oor Centurion het die manne van die Moot na die tweede plek op die Carltonbeker punteleer opgeskuif. Hoewel hulle dieselfde Carltonbeker ligapunte as Quins-Bobbies (QBR) het, is ABE Midas Naka Bulle se punteverskil beter, terwyl hulle ook nog ’n wedstryd minder gespeel het as die manne van Groenkloof.
Marinus van der Watt en Naas Rossouw se span kan hul plek in 2020 se Gouebeker reeks eerskomende naweek bespreek, wanneer hulle met QBR kragte meet. Slegs ’n oorwinning is nodig om hul Gouebeker 2020 status te verseker.
ABE Midas Naka Bulle het egter ’n bonuspunt oorwinning nodig om hul Carltonbeker hoop lewend te hou. Hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat Tuks vanjaar as Carltonebeker kampioen onttroon kan word, is dit teoreties steeds moontlik, maar die Moot-span is die enigste wat dit nog kan regkry.
Vir ABE Midas Naka Bulle om die Carltonbeker deur die agterdeur te steel, moet hulle egter eerskomende Saterdag volpunte behaal én Tuks dan ’n week later ook met volpunte klop. Die kinkel in hierdie kabel is dat Centurion daarna op 24 Augustus óók met Tuks sal moet afreken en dat Tuks (wat tans agt ligapunte voor ABE Midas Naka Bulle op die punteleer is) in dié laaste twee wedstryde nie meer as een bonuspunt moet verdien nie.
Hierdie scenario is hoogs onwaarskynlik, maar uiteraard nie onmoontlik nie.
– Die afgelope naweek se wedstryd tussen ABE Midas Naka Bulle en Centurion het tradisionele klipharde en genadelose klubrugby van die hoogste standaard opgelewer.
Hierdie wedstryd, wat met 31-13 deur ABE Midas Naka Bulle gewen is, was weer ’n stryd van twee helftes – soos dikwels vanjaar gebeur het in die Carltonbeker- en Volcanobeker ligas.
Teen rustyd het Centurion nog met 10-3 voorgeloop, nadat hulle voorlangs sake oorheers het in daardie eerste skof. Op daardie stadium het die Bezuidenhout broers, Wiehan (loskop) en Cassie (vaskop) die tuisspan harde bene laat kou in die vaste skrums, terwyl Centurion se pak voorspelers met manne soos Albert Bakker (flank) en Rohann Ströh (slot) aan die voorpunt in die algemene spel ook gesorg het dat die tuisspan gesukkel het om momentum te bou.
ABE Midas Naka Bulle se voorspelers, met hul hardwerkende veteraan-flanke Ian van Deventer en Luga van Biljon aan die voorpunt, het egter in die tweede helfte stadig maar seker die oorhand begin kry. Lawrence Cleminson se verskyning op die veld as plaasvervanger vaskopstut het sake in die vaste skrums in die tuisspan se guns begin swaai en ná die Bezuidenhout broers se vertrek het Centurion kwaai agteruit begin boer.
Al vier ABE Midas Naka Bulle se drieë is in die tweede helfte gedruk en dié span het vir die eerste keer vanjaar werklik karakter gewys deur tot aan die einde te bly veg vir die bonuspunt drie. Dié drie is enkele minute voor die eindfluitjie welverdiend gedruk deur Van Deventer, wat sy beste wedstryd van die seisoen gespeel het. Sy verwoede tweestryd met Bakker was ’n lus vir die oog en dit het die kwaliteit van klubrugby in Pretoria onderstreep.
– QBR se besoek aan die Bosveld het nie verloop soos hulle dit beplan het nie en Limpopo se top klubspan, die Northam Rhinos, het hulle met 48-38 geklop.
Hoewel QBR week na week opwindende en positiewe rugby speel, was Northam se groot en swaar pak voorspelers weer die deurslaggewende faktor in hierdie wedstryd.
Agter dié pak voorspelers het hul veteraan losskakel, Cecil Dumond, sake gedikteer en die Bosvelders kon uiteindelik sewe keer die doellyn haal.
QBR het hulself in die wedloop na die Volcanobeker halfeindstryde gehou deur die bonuspunt wat hulle verdien het deur self vyf keer te gaan druk.
– Hoewel daar in sommige kringe ontevredenheid heers oor die wyse waarop al Tuks se spanne die afgelope naweek volpunte verdien het nadat Springs hulself van die bepaling onttrek het en dus vrywillig punte afgestaan het, kan Springs se langtermyn beplanning met dié taktiek tog verstaan word.
Dié kampioenspan van die Valke se bestuur het laat weet dat hul spelers vodde gespeel is, nadat hulle sedert die Gouebeker toernooi in Maart en April nog geen ruskans gehad het nie. Met hierdie taktiek het hulle hul spelers ’n ruskans gegee, terwyl hulle waarskynlik glo dat hulle eerskomende Saterdag met Northam sal afreken. ’n Oorwinning teen die manne van Limpopo sal Springs se plek in die Volcanobeker halfeindrondte verseker.
– East Rand United, wat teoreties nog ‘n buitekans het om vir die halfeindstryd te kwalifiseer, het die afgelope naweek met die agteros van die toernooi, Rustenburg Impala, afgereken. Die eindtelling was 43-34 in die manne van Reigerpark in die Oos-Rand se guns.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie





