Agterdeur nog op klein skrefie oop vir Blou Bulle in Curriebeker
Na die Blou Bulle se verrassende oorwinning oor die Goue Leeus in Johannesburg, lyk dit skielik nie meer onmoontlik dat hulle wel by die agterdeur kan inglip op pad na die Curriebeker halfeindrondte nie.
Die Blou Bulle se lot is nie meer in hul eie hande in vanjaar se Curriebeker toernooi nie, maar ná die afgelope naweek se gebeure in dié kompetisie is daar tog nog ’n sprankie hoop dat Pote Human se manne dalk nog die halfeindrondte kan haal.
Met die Sharks se oorwinning teen een van die gunstelinge in die toernooi, die Cheetahs, asook die Blou Bulle se puik oorwinning op Emirates Airline Park teen die Goue Leeus, is die puntelys effens deurmekaar gekrap en die spanne is nou baie nader aan mekaar.
Human se manne, wat reeds die onderwerp van gebruiklike rugby-grappies was ná hul swak begin in die kompetisie, het Saterdag in Johannesburg respek afgedwing met die wyse waarop hulle die Leeus geklop het.
Terwyl die meeste pessimiste en ondersteuners van ander spanne ’n slagting in Johannesburg voorspel het (met die Blou Bulle as slagoffer, natuurlik), het sake sommer vroeg vir die tuisspan skeefgeloop.
Die Pretorianers se aanslag kon nie op ’n beter noot begin het nie, want voor die eggo van die skeidsregter se fluitjie by die eerste afskop nog behoorlik uitgedoof het, was Cornal Hendricks al in die regterhoekie oor vir die eerste drie van die wedstryd.
Toe loskopstut Dyan van de Westhuizen boonop ’n paar minute later deurstorm vir die Bloues se tweede drie, het die tuisskare in Johannesburg stil geraak.
Dié stilte het vinning in opgewonde afwagting verander toe die ramp van die debutant, Fred Eksteen, se rooikaart na slegs 22 minute se spel die Blou Bulle tref. Hulle sou dus sowat 60 minute met 14 man teen 15 moes speel en selfs die getrouste Bloubul ondersteuners het gedink dis die einde van enige kans op sukses.
Onder die leiding van die onervare kaptein, Ivan van Zyl, het die Blou Bulle egter almal verras en met durf en vuur baklei tot aan die bitter einde. Een van die ander pluspunte was die feit dat Manie Libbok op losskakel weer vir ’n slag gespeel het soos almal van hom verwag.
Hy het sake goed beheer vanaf die losskakel posisie en selfs die Blou Bulle se derde drie gaan druk. Boonop was sy visier ingestel en met twee doelskoppe en vier strafdoele het hy die Pretorianers gehelp om hul bure van anderkant die Jukskeirivier vir die eerste keer in sewe jaar op hul tuisveld te klop in ’n Curriebeker wedstryd.
Terwyl ’n plek in die halfeindrondte van vanjaar se Currriebeker toernooi verlede week byna onmoontlik gelyk het, het sake egter nou só verander dat die Blou Bulle wel nog by die agterdeur kan inglip.
Daarvoor sal hulle oor twee weke met die Sharks moet afreken én ’n bonuspunt moet verdien. Dan sal hulle moet hoop dat die Lions eerskomende naweek ook met die Sharks in Johannesburg afreken, terwyl enige van die Cheetahs op die WP ook hul laaste twee wedstryde moet verloor.
As al hierdie permutasies realiseer, kan die Blou Bulle nog in die vierde plek op die punteleer eindig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



