Laaste rondte in Volcanobeker toernooi bepaal halfeindkandidate
Tuks speel eerskomende Saterdag teen Centurion, terwyl ABE Midas Naka Bulle teen die Northam Rhinos te staan sal kom in die halfeindstryde van die Volcanobeker interprovinsiale klubrugbytoernooi.
Soos te wagte het die laaste rondte van die Volcanobeker interprovinsiale klubrugbytoernooi die afgelope naweek nie net klipharde rugby opgelewer nie, maar ook ’n paar verrassings.
Dit kon natuurlik nie anders nie, want spreekwoordelik het vier honger honde Saterdagmiddag oor die oorblywende twee bene in die toernooi baklei, wat vooraf reeds die tafel vir genadelose uitklop-rugby gedek het.
Die verrassings het toevallig gebeur in albei wedstryde waarin die twee voorlopers op die punteleer, Tuks en ABE Midas Naka Bulle, betrokke was. Of was dit regtig verrassings? Dié twee spanne het immers albei voor Saterdag se aksie reeds onderskeidelik vir die eerste- en tweedeplekke op die punteleer gekwalifiseer en daar sal natuurlik vrae wees of hulle hierdie wedstryde werklik met erns en dringendheid benader het.
– Ná hul kragtoer van 13 volpunte-oorwinnings in ’n ry sal Tuks se gelykop uitslag teen Centurion vir hulle soos ’n nederlaag voel. Centurion se ses puik drieë teen Tuks sal dalk ook daardie klein bietjie twyfel in die studente se agterkoppe laat posvat as hulle mekaar eerskomende Saterdag weer ontmoet in die een halfeindstryd van die Volcanobeker toernooi.
Riaan Brand se manne het weer gewys dat hulle die een span in Pretoria is wat die vermoë het om Tuks te ontsenu en hul ritme te breek, net soos hulle die afgelope paar seisoene gereeld op hul tuisveld in Centurion gedoen het.
Saterdag het hulle boonop daarin geslaag om vanaf ’n agterstand (12-22) teen rustyd terug te veg om uiteindelik gelykop te speel met 41 punte elk.
Danksy die drie ligapunte wat Centurion teen Tuks verdien het, het hulle vierde op die punteleer geëindig en vir Saterdag se herontmoeting met Tuks in die een halfeindstryd van die toernooi gekwalifiseer
Centurion het baie beter verdedig as tydens hul vorige wedstryd teen Tuks, terwyl hul voorspelers nie ’n tree teruggestaan het vir Tuks se makro agttal nie. Agter dié hardwerkende pak voorspelers het die bloedjong losskakel van Centurion, Ethan Wentzel, weer gewys dat hy die potensiaal het om op ’n hoër vlak rugby te speel.
– Ironies genoeg sal ABE Midas Naka Bulle ook eerskomende Saterdag in ’n herontmoeting wees met die Limpopo Blou Bulle se spogspan, Northam Rhinos, nadat laasgenoemde die manne van die Moot Saterdag met 40-38 geklop het.
Hoewel die manne van die Bosveld ’n wisselvallige seisoen beleef het, was hulle in die tweede helfte van die toernooi baie gevaarlik op hul tuisveld in Northam.
Saterdag het hulle ses keer gaan druk teen ABE Midas Naka Bulle, terwyl die besoekers self vyf keer agter die doellyn gaan kuier het.
Northam se volpunte-oorwinning het hulle in die derde plek op die punteleer laat eindig, wat die herontmoeting met Marinus van der Watt se manne in eerskomende naweek se halfeindstryd op Loftus Versfeld moontlik gemaak het.
– Die ander twee honde wat die geveg om die laaste twee bene verloor het, is die Valke se kampioenspan, Springs, en die enigste Carltonbekerspan wat nie in die Volcanobeker halfeindstryd betrokke gaan wees nie, Quins-Bobbies (QBR).
Springs sal waarskynlik nog lank hul wonde lek en nabetragting doen oor hul oordeelsfoute in die pylvak van die toernooi, nadat hulle op ’n stadium na ’n seker kandidaat vir die halfeindstryd gelyk het. Hul besluit om nie hul voorlaaste ligaverpligting teen Tuks na te kom nie, asook hul nederlaag in hul laaste wedstryd teen Northam het dié Oos-Randers se baie belowende seisoen in ‘n mislukking verander.
QBR, wat Impala Saterdag in hul laaste wedstryd met 66-48 geklop het, is ook baie beter as hul uiteindelike sesde plek op die punteleer. Dié span van Gert Mulder en Johan Kluyts het by tye skitterende rugby gespeel, maar probleme met diepte in sekere posisies en een of twee wedstryde waar die spring van die bal nie vir hulle uitgewerk het nie, het hul seisoen ongelukkig anders laat uitdraai.
Klubrugby in Pretoria het dié span egter dringend nodig en ‘n mens hoop QBR sal volgende seisoen met ’n knal terug wees.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
