Ramcat Fish se hengelfees beter as ooit
Die sewende Ramcat Fish hengelfees vir gestremde hengelaars in Centurion was vanjaar groter en beter as enige van die vorige soortgelyke byeenkomste.

Die afgelope naweek se sewende Ramcat Fish hengelfees in Centurion was beter en groter as ooit.
Dít is die mening van Gerard Smal, die hooforganiseerder van hierdie hengelfees wat eksklusief vir gestremde hengelaars aangebied word.
Hoewel die hengelfees weens logistieke redes vanjaar vir die eerste keer op ’n Sondag aangebied is, het gestremde hengelaars en hul helpers steeds van oraloor na die Irene Country Lodge in Centurion opgeruk om in die aksie te deel. Die grootste hoeveelheid deelnemers was uit Gauteng, maar sommiges het so ver as uit Limpopo, Noordwes en Mpumalanga gereis om deel te neem.
Een van die opvallende aspekte van vanjaar se fees was die groot hoeveelhede familielede en vriende van die hengelaars wat saamgekom het om in die pret te deel of om sommer net langs die dam met ’n boek of ’n koue verversing te ontspan.
Bekende persoonlikhede soos die gestremde sanger, Matthys Roets en die bekende oud weermagoffisier en voormalige krygsgevangene, kolonel Wynand du Toit, het vanjaar ook die fees bygewoon. Du Toit, wat verskeie boeke oor sy lewe en ervarings gepubliseer het, het sommige daarvan vir die feesgangers beskikbaar gestel.
Die aksie het kort na ontbyt begin en dit het nie lank geduur voor die toeters begin fluit het soos die vis gebyt het nie.
Kort voor middagete het die hengelaars reeds 60 babers en drie karps uitgetrek. Die karps is geweeg en teruggegooi in die dam, maar die babers is in ’n spesiale tenk geplaas, waarin dit vervoer sal word na ’n ander dam. Hierdie verplasing van die babers is jaarliks deel van die Ramcat hengelfees, om oorbevolking van babers in die Irene Country Lodge se dam te voorkom.
Die grootste vis van die dag was ’n baber van 5,05kg. Dié knewel is gevang deur Leon Petrou, ’n dowe hengelaar wat uit Krugersdorp gereis het om deel te neem.
Na afloop van die hengelaksie is die hengelaars en hul helpers en familie of vriende onthaal met ’n heerlike middagete van braaivleis en verskeie smaaklike bykosse. Hoewel die Ramcat hengelfees nie ’n amptelike kompetisie is nie, is verskeie pryse aan sommige van die hengelaars uitgedeel om hulle vir hul deelname te beloon.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




