Local sportSport

Klofies beloof revolusie op sportvelde met nuwe bestuur

Die Hoërskool Waterkloof se gereorganiseerde sportburo is verlede week amptelik ingehuldig by ’n funksie waartydens die nuwe sportdirekteure ook bekendgemaak is.

“Die Hoërskool Waterkloof trek vanaand ’n nuwe baadjie aan – letterlik en figuurlik – en dit gaan die begin wees van ’n nuwe revolusie op die sportveld waarvoor ander skole ons sal beny…”

Dit was die woorde van Chris Denysschen, die energieke nuwe hoof van die Hoërskool Waterkloof, kort voordat dié skool se nuwe sport-direkteure verlede week tydens ’n spoggerige funksie amptelik aangekondig is.

Hoewel Waterkloof vir jare reeds onder die top presteerders op die sportveld tel in skolesport, is daar onlangs besluit om ’n nuwe blaadjie om te slaan en die skool se hele sportburo is via ’n proses van herevaluering gereorganiseer om gereed te wees vir die uitdagings van die toekoms.    

Cobus van Dyk, adjunkhoof sport en koshuis van Waterkloof, het gesê hierdie proses is deurloop om die skool nie net op plaaslike standaarde te bring nie, maar die bestuur wil die skool se sportspanne selfs op só ’n standaard bring dat dit ook met die beste ter wêreld kan vergelyk.

Al die poste van die skool se sportburo is weer geadverteer en hoewel enkele voormalige direkteure weer in hul poste aangestel is, is daar ook heelwat nuwe gesige. Een van die kenmerke van dié nuwe sportbestuur is die jeugdige voorkoms, met verskeie nuwe spordirekteure wat ’n beeld van jeugdige energie uitstraal.

Van Dyk, wat self vroeër vanjaar eers by Waterkloof aangesluit het, lei ’n span van sewe direkteure. Die verwysing na die letterlike “nuwe baadjie” was van toepassing op spoggerige nuwe baadjies wat seremonieël aan elke sportdirekteur oorhandig is. Dit sal as simbool van dissipline en eenvormigheid aan die Klofies ’n unieke karakter gee tydens sportbyeenkomste in die toekoms.

Waterkloof se nuwe sport-bestuurspan lyk soos volg: Bonnie Joyce (atletiekdirekteur), Jeanie Pienaar (hokkiedirekteur), Cobus Pienaar (krieketdirekteur), René Straeuli (netbaldirekteur), Lukas Holtzhauzen (rugbydirekteur), Alexandra Dreyer (tennisdirekteur) en Muller van den Nest (direkteur van kleiner sporte, waaronder ten minste tien kleiner sportsoorte tel).

Die ervare Hannelie Koch is steeds die administrateur van die skool se sportburo.

Waterkloof beskik ook oor ’n toegeruste noodhulpkamer, asook sportwetenskaplikes soos fisioterapeute en biokinetici wat by die skool se sportburo gehuisves word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button