Kom ontmoet Bloubul legendes by Silver Valke se Mannedag
Die Silver Valke Rugbyklub in Silverton bied eersdaags ’n interessante Mannedag aan waartydens die toekoms van klubrugby as tema sal dien, maar waar gaste ook met verskeie Bloubul legendes sal kan kuier.
Na ’n paar uitdagende seisoene het die voormalige top Carltonbeker rugbyklub, die Silver Valke, ’n nuwe strategie in werking gestel om hul status in ere te herstel.
Dié klub het weens verskeie uitdagings, wat faktore soos probleme met voedingskole in hul omgewing insluit, hul Carltonbeker status verloor. Silver Valke se dinamiese voorsitter, Henry van Wyk, en sy bestuur het egter nou daarin geslaag om hulp te kry van die Oud Bloubul Spelersvereniging en hulle glo dit sal die klub se status herstel en hulle in staat stel om weer op die veld ook ’n faktor te word.
Die pad na herstel vir die Silver Valke begin op Vrydag 27 September, wanneer ’n gesellige Mannedag-middagete in dié klub se gerieflike klubhuis in Roestoffstraat 220, Silverton, aangebied word. Dié funksie sal in die formaat van ’n middagete vanaf 12:00 dié dag aangebied word.
Hoewel Van Wyk deesdae met ’n rolstoel oor die weg kom, was hy op sy dag ’n kranige Carltonbeker speler en hy het daarin geslaag om verskeie spelers uit sy era – ook Bloubul legendes – by dié Mannedag betrokke te kry.
Gaste kan ’n tafel vir nege persone koop, wat outomaties ook ’n Bloubul legende sal insluit. ’n Driegang maaltyd is by die prys van kaartjies ingesluit.
Terwyl die legendariese Wynie Strydom as seremoniemeester gaan optree, sal die president van die Blou Bulle, Willem Strauss, die gasspreker wees. Daar sal ook ’n paneelbestreking wees, waarby oud Bloubul spelers en ander gaste betrek sal word.
Bloubul ondersteuners en rugbyliefhebbers wat dus meer wil hoor oor die toekoms van rugby op alle vlakke kan nie bekostig om hierdie funksie mis te loop nie.
Vir meer besonderhede, kontak Henry van Wyk by 083-466-9016 of per e-pos by henry4rugby@yahoo.com .
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
