Tweede Dreyer Campbell atletiekbyeenkoms sorg vir opwinding
Die tweede Dreyer Campbell prestige atletiekbyeekoms het gewys dat verskeie skole se atlete gereed is vir vuurwerke by vanjaar se interhoër byeenkomste.
Hoërskool Waterkloof se tweede jaarlikse Dreyer Campbell atletiekbyeenkoms het Vrydagaand in die Tuks Atletiekstadion vir groot opwinding gesorg.
Dié byeekoms, wat op ’n stadium in gedrang was weens gure weer en dreigende weerlig, het uiteindelik puik prestasies opgelewer.
Hierdie jaarlikse prestige byeenkoms is vir die tweede jaar onder sy nuwe naam aangebied, nadat Waterkloof dit verlede jaar herdoop het om hul afgestorwe atletiekdirekteur en legende in dié sportsoort, Dreyer Campbell, te vereer.
Die Klofie-atlete kon tydens die byeenkoms kragte meet met vyf sterk atletiek-kragte uit Gauteng, terwyl nog ’n deelnemer al die pad uit Noordwes gereis het om te kompeteer. Saam met Waterkloof was atlete van Hoërskool Menlopark, Hoërskool Noordheuwel uit Krugersdorp, Hoërskool Kempton Park, die Tuks Sportskool, die Zwartkop Christian School uit Centurion en Hoërskool Klerksdorp uit die Noordwes provinsie in aksie.
Kort nadat die aksie Vrydagmiddag begin het, moes die atletiekbaan egter ontruim word weens ligte reën en die bedreiging van weerlig. Hierdie onvoorsiene probleem het die byeenkoms vir langer as twee ure vertraag om die veiligheid van allle atlete en beamptes te verseker. Gelukkig kon daar egter – nadat die weer-bedreiging verbygetrek het – planne beraam word om al die atlete in die oorblywende tyd te akkomodeer. Sommige velditems is byvoorbeeld saamgevoeg om verlore tyd op te maak.
Twee o.14 meisies atlete van Menlopark het, soos ’n week gelede by hul eie skool se byeenkoms, weer gesorg vir vuurwerke in drie verskillende velditems én vir die byeenkoms se beste prestasies. Terwyl Cellonika van der Bergh Vrydag die diskus item met ’n skitter-afstand van 40,32m gewen het, het haar spanmaat Savanna Visser die bordjies verhang in die gewigstoot (13,80m) en spiesgooi (37,35m).
Waterkloof se Juwan Blignaut het ook aandag getrek met twee goue medaljes. Dit was veral sy tyd van 53,05s in die 800m wat uitgestaan het, terwyl hy ook die 1500m item (3:57,00) gewen het.
Nog klofie atlete wat die oog gevang het was Tiaan Greeff met sy tyd van 22,48 in die 200m vir seuns o.15 en Alwyn Marais se wentyd van 2:03,98 in die 800m vir seuns o.15.
Carla van Wyk van Menlopark se tyd van 2:14,94 in die 800m vir meisies o.16 het ook aandag getrek, terwyl haar spanmaats Ruan Oosthuizen (22,65s; seuns o.16), Rolandt Grosskopf (23,95s; seuns o.14) en Colene Scheepers (26,08s; meisies o.14) almal in die 200m naellope uitgeblink het.
Kevin Locke van Menlo het weer die gewigstoot (17,33m) en diskus (55,43m) vir seuns o.17 oorheers, terwyl Hanru Potgieter van Menlo selfs verder uitgestaan het met sy 58,97m in die diskus vir seuns o.15.
Beide Waterkloof en Menlopark se atlete het by hierdie byeenkoms gewys dat top aksie verwag kan word by die A-bond byeenkoms, wat binnekort by Ruimsig in Roodepoort plaasvind.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



















