Bulls se SuperRugby Unlocked trofee kan begin wees van nuwe sukses era
Die Bulls is die SuperRugby Unclocked kampioen en hulle kan die Curriebeker seisoen met moed en goeie verwagtings tegemoedgaan, want sake by Loftus Versfeld lyk op en van die veld af meer rooskleurig as in baie jare.
Die Bulls het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld verseker dat hulle hul eerste silwerware in tien jaar wen deur die SuperRugby Unlocked reeks te beklink met ’n oorwinning van 21-5 oor die Pumas.
Wat enigiemand ookal oor dié afgewaterde toernooi te sê het, dit bly ’n feit dat die Bulls sonder twyfel verdien het om die trofee te wen. Hulle het rukkerig begin, soos natuurlik te wagte kon wees van ’n nuwe span in ’n nuwe bedeling by Loftus Versfeld. Maar soos die seisoen gevorder het, was dit duidelik dat dinge in Bloubul rugby besig is om dramaties te verbeter.
Baie is sedert April vanjaar gesê toe die huidige bestuur onder leiding van die Bulle se president, Willem Strauss, besluit het dat die grendelstaat tydperk ’n geleentheid is wat gebruik moet word om sake by Loftus reg te ruk. ’n Nugter ontleding is egter nodig om die saak vir Bulls ondersteuners in perspektief te stel, want persepsies kan maklik mense se denke bestuur – veral in hierdie dae waarin sosiale media so baie se lewens oorheers.
Sowat agt maande gelede wou dit lyk of die Bulls steeds op die pad van middelmatigheid voortstrompel. Op daardie stadium was die Bulls twaalfde (uit vyftien) op die SuperRugby punteleer, met net een oorwinning in sewe wedstryde en ’n moeilike toer voor hulle, waarin hulle reeds sleg teen die Reds in Brisbane verloor het, terwyl die Waratahs in Sydney, die Hurricanes in Wellington en die Chiefs in Hamilton nog vir hulle gewag het. ’n Paar moeilike wedstryde op Loftus sou dan volg, terwyl die span – wat reeds vroeër op hul tuisveld teen die Jaguares verloor het, ook nog na Buenos Aires sou moes reis vir die herontmoeting met die Argentyne.
Waar sou dáárdie beleerde Bulls span teen die einde van Meimaand op die punteleer geëindig het?
Toe die bestuur net voor die aanbreek van die grendelstaat tydperk aankondig dat dinge gaan verander, het die tonge begin klap – veral toe Jake White se aanstelling bekend geword het. Dae daarna het die grendelstaat aangebreek en skielik het die geleentheid hom voorgedoen om dinge grootskaals te herstruktureer.
Hierna het die tonge natuurlik éérs begin klap. Jake White is uit verskeie oorde afgeskiet. Daar is gesê dat hy “die ouetehuis besoek het” om spelers te gaan haal. Met hierdie argument is sommer name soos Morné Steyn en Duane Vermeulen bygesleep – spelers wat natuurlik gewerf is lank voor White by Loftus aangekom het.
Hoe ookal, dit het vir waarnemers met ’n bietjie toegang tot die binnekring gou duidelik geword dat die Jake White era allermins vergelyk sou kon word met die rampspoedige vorige bedeling toe die kwasi-rugby meesterbrein, John Mitchell, op Loftus sake kom omkrap het.
White het sekerlik sy tekortkominge, maar onder omstandighede is daar min ander met sy ervaring en vermoëns – en bewese rekord as ’n wenner! – om ’n unie soos die Blou Bulle se glorie te herstel. Eerstens – en sekerlik die heel belangrikste faktor – is dat White die kultuur van rugby in Pretoria verstaan en respekteer. Dít is ’n reuse faktor en iets wat Mitchell nooit onder die knie sou kon kry nie. Dis ook die aspek wat Mitchell laat misluk het voordat hy nog begin het.
As ’n mens die geleentheid kry om die span wat die afgelope twee maande op die veld presteer het en hul bestuur van nader dop te hou, word dit gou duidelik dat daar vir die eerste keer in ’n lang tyd weer ’n positiewe gees heers. Verder bestaan die span uit ’n skitterende mengsel van ervare ou manne – onder wie supersterre soos Vermeulen en Steyn albei op die veld met voorbeeld lei – en briljante jongelinge met potensiaal om supersterre te word. Daarby is White se bestuurspan almal manne wat die vermoë en die honger het om groot sukses te behaal.
Van die veld af het die Bulle ’n bloedjong, maar innoverende en baie belowende jong Hoof Uitvoerende Beampte gekry, wat nie net die bestuursvermoë het om raadsaal-sake in orde te kry nie, maar ook die nodige rugbykennis het wat daarby pas.
Dan is daar die Blou Bulle se president. In Willem Strauss het die Bulle ’n president wat rugby eet, drink en slaap en wat wéét hoe die stukture vir die toekoms behoort te lyk. In die twee jaar sedert Strauss as president ingestem is het hy – op amateur én professionele vlak – waarskynlik meer vir Bloubul rugby gedoen as al drie die vorige presidente van die unie tesame tydens hul gesamentlike era van byna dertien jaar.
Die magtige Blou Bulle van Pretroia staan op die drumpel van nuwe uitdagings en nuwe eras. Op en van die veld af is dit duidelik dat dié unie reg is daarvoor. Daar is opwindende jong spelers in die pyplyn, die geldsake is gesond en ware rugbymanne is weer in beheer. Met die uitsondering van kleinlike eksterne landspolitiek is daar min wat die “nuwe” Bulle sal kan stop om weer ’n kampioen unie te word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe: Rekord Oos
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
