Legendariese Frik du Preez vereer by Loftus Versfeld met paviljoen wat sy naam sal dra
Die noordelike paviljoen op Loftus Versfeld sal in die toekoms bekendstaan as die Frik du Preez-paviljoen, nadat dit Maandag amptelik deur die Blou Bulle Rugby-unie na hom vermoem is.
Die Blou Bulle het in hul roemryke geskiedenis van 83 jaar reeds van die wêreld se beroemdste rugbyhelde opgelewer.
Daar is werklik te veel om op te noem, maar daar word gesê dat drie van hierdie superhelde effens uitstaan bo die res. Drie dinge onderskei hulle van die res.
Eerstens was elk van hulle in ’n era van langer as tien jaar in die ligblou trui van Noord-Transvaal en die Blou Bulle in aksie en het hulle nooit vir enige ander provinsie uitgedraf nie. Tweedens is hulle die enigste drie Bloubul helde wat ook in Wêreldrugby se prestigeryke heldesaal vereer is. En derdens kan nét enige van dié drie se voorname in ’n rugbygesprek genoem word en elke gespreksgenoot sal presies weet van wie daar gepraat word. Hulle was Frik, Naas en Joost – die Blou Bulle se drie grootse supersterre van alle tye.
Die bestuur van die Blou Bulle het groot planne vir die noordpaviljoen op Loftus Versfeld, wat reg langs die moderne nuwe Loftus Park-ontwikkeling geleë is. Hierdie planne sluit onder andere in ’n museum om die roemryke geskiedenis van Noord-Transvaal en die Blou Bulle te herdenk.

Foto: Koos Venter
Die eerste stap tot al die nuwe ontwikkelings is Maandag oggend geneem toe daar aangekondig is dat dié paviljoen vernoem gaan word na die oudste van die drie supersterre van Loftus, wat jare gelede ook as Suid-Afrika se Rugbyspeler van die 20ste Eeu aangewys is.
Frik du Pleez het Noord-Transvaal 109 keer verteenwoordig, terwyl hy 87 keer die Springboktrui gedra het. Hiervan was 38 in toetswedstryde, terwyl hy ook 49 keer in ander toerwedstryde uitgedraf het in die dae toe die Bokke nog op toere van drie maande gegaan het.
Dit was egter op Loftus Versfeld waar hy van sy grootste heldedade uitgevoer het. Toe hy Maandag daaroor uitgevra is, het hy erken dat sy enigste toetsdrie – teen die Britse Leeus van 1968 – beslis ’n hoogtepunt was. Ironies genoeg het hy die media te woord gestaan op Loftus Versfeld reg voor die Noordpaviljoen en letterlik enkele meters van die hoek waar hy vir dié beroemde toetsdrie oorgeduik het.

Foto: Koos Venter
Hy het ook weer die Curriebeker eindstryd van 1969 in herinnering geroep, waaroor sy destydse boesemvriend, Mof Myburgh, later dié beroemde woorde sou sê: “Vandag het ou Frik gedrop, geplace en gescore…” Dit was natuurlik na aanleiding van die feit dat Du Preez daardie dag teen die WP op elke moontlike wyse punte aangeteken het, deur ’n skepdoel, ’n strafdoel, ’n drie en ’n doelskop.
Die Bulle het dié eidnstryd met 28-13 gewen en ’n ongekende era van sukses ingelei waartydens hulle oor ’n tydperk van 14 jaar die Curriebeker nege keer sou wen en twee keer sou deel, terwyl hulle slegs een keer in ’n eindstryd verloor het en twee keer nie die eindstryd kon haal nie.
’n Opsigtelik aangedane Du Preez het gesê sy voel klein en nederig oor die eer wat aan hom opgedra word as hy dink aan al die groot name wat al in die geskiedens op Loftus Versfeld gespeel het.
“Ek het aan Willem Strauss gesê ek sal die eerbetoon aanvaar, maar ek doen dit ook namens almal wat voor my en saam met my hier gespeel het,” het hy gesê.
Daarna het hy uitgeberei ook die era van 18 jaar wat hy op Loftus Versfeld gespeel het sedert sy junior dae as lid van die Weermag rugbyklub. Hy het met heimweë vertel van die dae toe meer as 20000 mense Saterdae op Loftus Versfeld gesit het om na klubrugby te kyk.
“Ek dink ook terug aan my klubmaats van daardie dae, want sonder hulle sou ekself nooit ’n naam kon maak as rugbyspeler nie,” het Du Preez benadruk.
Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie, het gesê sodra die ontwikkelings en planne in die noordpaviljoen by Loftus afgehandel is, sal daar ’n formele inhuldiging van die nuwe Frik du Preez-paviljoen wees.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
