Local sportSport

Bulls stel teleur, kry pak in Rainbow Cup eindstryd

Die Bulls het hul ondersteuners regoor Suid-Afrika bitter teleurgestel toe hulle hul swakste vertoning van die seisoen in die unieke, eenmalige Rainbow Cup toernooi vir die eindstryd teen die Italiaanse span, Benitton, in Treviso, gebêre het.

Hoewel selfs die Bulls se grootste haters binne die grense van Suid-Afrika verras sou wees met die maklike manier waarop die Italiaanse span, Benetton, hulle Saterdagaand in Treviso met 35-12 in die eindstryd van die Rainbow Cup geklop het, het die Pretorianers waarskynlik die res van die land ’n guns bewys.

Met hul skokkende swak vertoning in die eindstryd is die Bulls, hul bestuur, hul ondersteuners en sommer ook elke ander Suid-Afrikaner wat oopkop genoeg is om die afgelope Rainbow Cup se verloop eerlik te ontleed, Saterdagaand ontnugter en gedwing om groter perspektief te kry oor die toekoms van Suid-Afrika se top provinsiale spanne in hul nuwe avontuur teen spanne van die noordelike halfrond.

Ja, die Bulls was baie swak. Soos Jake White agterna erken het, dit was eenvoudig een van dáárdie dae wat net mooi níks reg wou verloop nie. Die lynstane was ’n ramp, die dryfbewegings wou nie uitwerk nie, die hantering in toestande van erge humaniteit was swak, hul verdediging was soms pateties en hul skakelpaar was die kluts heeltemal kwyt.

Boonop is die leierskap en ervaring van manne soos Duane Vermeulen en Morné Steyn regtig gemis, want op die dag het die Bulle ook leierloos voorgekom.

’n Mens het deurentyd die gevoel gekry dat iets groot fout is by die Bulle. Hulle kon eenvoudig nie momentum bou nie en weens die horde amateuragtige foute was hulle permanent onder druk.

Op die keper beskou, was dit dalk nie die Bulls se bestuur nie, maar beslis die span se ondersteuners wat Benetton onderskat het. Dié span het met elf internasionale spelers, wat onlangs nog vir Italië in aksie was, in hul geledere uitgedraf. Daarby het oud Blou Bulle soos haker Corniel Els en plaasvervanger slot Irne Hebrst waarskynlik ook geen ekstra motivering nodig gehad om ’n bietjie wraak te neem teen die feit dat hulle albei op ’n stadium in Pretoria te lig bevind is nie.

Daar is sekerlik ook ’n klein bietjie waarheid in die persepsie dat Benetton gebaat het by die vreemde liga-struktuur van die toernooi en by die feit dat sekere wedstryde weens Covid-regulasies afgelas moes word.

Maar diegene wat vooraf teen hierdie feite vasgekyk het en toe besluit het die Italiansers was gelukkig om die eindstryd te haal, het vergeet om na die groter prentjie te kyk voordat hulle Dewald Duvenhage en sy makkers onderskat het.

Feit bly staan dat die Italianers tydens die reeks ook deeglik  met spanne soos Connacht (Ierland), en Glascow Warriors (Skotland) afgereken het om bo aan die Europese deel van die punteleer te eindig.

Kortom gestel, hierdie span van Treviso was baie beter as waarvoor hulle voor die wedstryd in Suid-Afrika krediet gekry het. ’n Deel van hul afrigtingspan, waaronder die hoofafrigter Kieran Crowley, skuif eersdaags aan om die nasionale span van Italië onder hande te neem. Dis dus nié ’n Miekie Muis span met tweederangse afrigters in beheer wat die Bulls Saterdagaand geklop het nie.

Uiteindelik het die Bulls ’n duur les geleer – nie net vir hulself nie, maar ook vir ander Suid-Afrikaanse spanne. Soos White dit agterna gestel het, álles daar in die noorde is anders en geen SA span sal sommer daar aanland en wedstryde op ’n drafstap wen nie. Dit was boonop mid-somer in die noord-ooste van Italië. Die humaniteit was duidelik hoog daar naby die Adriatiese see. Terwyl die tuisspan elke dag onder daardie toestande speel, het die Bulls slegs drie dae kans gehad om daarin voor te berei.

Kom ons noem dit ’n sameloop van vreemde omstandighede, wat almal die Bulls se dag bederf het. Net om weer te erken dat die grootste faktor die feit is dat die leierskap van die span swak was, die spelers hopeloos hul fokus verloor het en veral die skakelpaar heeltemal kop verloor het, terwyl niks vir die Italianers verkeerd wou loop nie.

Die Bulls – en al die ander SA spanne wat vanaf September in die nuwe Pro-16 toernooi sal speel – sal baie vinnig al hierdie realiteite onder die knie moet kry voordat Suid-Afrika ’n span gaan hê wat, soos die Bulls destyds in die SuperRugby toernooi, kan droom om as kampioen van die nuwe liga gekroon te word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button