Victor Matfield inspireer Centurion klubspelers
Centurion rugbyklub se eerstespan is gereed om ’n groot seisoen te beleef en by die klub word daar geglo dat die tyd aangebreek het om weer die Carltonbeker te wen, nadat dié gesogte beker ná die 2016 seisoen laas in Centurion se vertoonkas gepronk het.
Hoewel die Centurion Rugbyklub net soos al die ander deelnemers aan die Carltonbeker liga tans deel in die frustrasie van die invloed wat die Covid-19 krisis steeds op klubrugby het, staan dinge ook nie stil by dié gewilde klub nie.
Centurion het sedert verlede seisoen hul voorbereiding en aanslag verander om beter aan te pas by die nuwe eise wat die semi-professionele era aan top klubspanne stel
Ongelukkig is die 2020 seisoen baie vroeg deur die virus se tussenkoms beëindig. Dié terugslag het egter nie die bestuur en afrigters van die klub ontspoor nie en daar is lank voor die nuwe seisoen reeds weer begin met beplanning en voorbreiding vir 2021.
Tans lyk Centurion baie beslis na een van die gunstelinge om vanjaar ten minste in die eindstryd van die Carltonbeker liga te speel. Riaan Brand en sy mede afrigters het ’n baie goed gebalanseerde span bymekaar, wat beslis nog van krag tot krag sal gaan.
Saam met die nuwe aanslag het die klub ook nuwe borge aan boord en verlede week is die eerstespan spelers by ’n spesiale geleentheid voorgestel aan verteenwoordigers van Betway, wat deesdae Centurion se hoofborg is. Dit beteken dat die span voortaan bekend sal staan as Betway Centurion.

Foto: Koos Venter
Die legendariese Springbok slot en kaptein van die suksesvolste Bulls span ooit, Victor Matfield, is deesdae ook as ambassadeur betrokke by Betway en hy het verlede week tyd afgestaan om Centurion se spelers toe te spreek ter motivering voor hul wedstryd teen Harlequins, wat maklik deur Centurion gewen is.
Matfield het beklemtoon dat hy opgewonde is om te sien hoeveel top talentvolle spelers deesdae weer bereid is om klubrugby te speel. Volgens hom kan dit die spel beslis versterk, veral onder die vaandel van die Blou Bulle.
Dié rugbylegende het Centurion se spelers daarop gewys dat geleenthede weer vir klubspelers beskikbaar gaan word om raagesien te word vir moontlike hoër louere.
“Die beste raad wat ek julle kan gee is om nooit op te hou om te droom en jou droom te jaag nie. Niks is onmoontlik nie en elkeen van julle kan met baie harde werk en ’n bietjie geluk nog provinsiale rugby speel,” het Matfield gesê.
Hy het die spelers wat hul rugbyloopbane ernstig opneem aangeraai om te sorg dat hulle eenvoudig harder werk as enigiemand anders.
“Sit altyd ’n bietjie ekstra in en maak seker dat jy harder werk aan jou fiksheid en vaardighede as enige van jou teenstanders. Dan sal die resultate vanself kom,” het Matfield die spelers verseker.
Daarna het Matfield elke speler se nuwe wedstryd-trui, waarop hul nuwe borg se naam pronk, aan lede van die span oorhandig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
