Local sportSport

Uiteindelik, kampioenskap vreugde vir Naka Bulle!

Uiteindelik, ná ses dekades waarin hulle soms bitter naby gekom het, maar nooit sukses behaal het nie, kon die spelers en bestuur van ABE Midas Naka Bulle Saterdagaand vonkelwyn drink uit die gesogte Carltonbeker, die oudste klubrugbytrofee in Suid-Afrika.

Die vreugdevure het Saterdagaand baie hoog gebrand in Pretoria se Moot, want ná byna 60 jaar van deelname, waartydens hulle soms bitter naby gekom het, kon dié kontrei se klubrugby span uiteindelik die Carltonbeker omhoog hou. ABE Midas Naka Bulle het ’n hardnekkige aanslag van die Northam Rhinos afgeweer om die 2021 Carltonbeker finaal met 35-25 op Loftus Versfeld te wen en daarmee seker te maak dat dié gesogte ou trofee vir die volgende jaar met groot trots daar in Meyerstraat in Wonderboom-Suid ’n tuiste sal kry. https://youtu.be/AJiCJcFjKj0 Die oorwinning was welverdiend vir Theuns Reynolds en sy spanmaats, wat ook gerieflik bo aan die punteleer van die kompetisie geëindig het en vanjaar slegs een keer vroeg in die ligafase geklop kon word. Nadat die span die afgelope 20 jaar verskeie keer in die halfeindrondte of eindrondte van die toernooi vasgeval het, was daar verlede week stille vertroue en ’n positiewe gees in die ABE Midas Naka Bulle kamp, ter spyte van die skoknuus wat hulle reeds Maandag moes verwerk toe dit bekendgeword het dat hul inspirerende kaptein, Louis (Luga) van Biljon, se armbesering wat hy teen Centurion in die halfeindstryd opgedoen het, ernstig is en dat hy nie Saterdag sy span op die veld sou kon lei nie. Aan die ander kant het die Northam Rhinos ook groot drome gedroom en beslis nie Pretoria toe gereis om net deel te neem nie. Hulle het óók geglo hulle sou geskiedenis maak in dié unieke eindstryd, wat vir die eerste keer ooit op SABC-TV uitgesaai is. Terloops, dié verwikkeling was ’n reuse deurbraak vir klubrugby in Suid-Afrika, waardeur die Blou Bulle se president, Willem Strauss en sy bestuurspan ’n enorme bres geslaan het vir rugby op dié vlak.

Met ’n TV-gehoor van ’n paar miljoen en die handjievol dankbare toeskouers wat weens die nuutste Covid-regulasies wel op Loftus Versfeld toegelaat is as getuies, het die wedstryd aan al die verwagtinge van ’n skitterende eindstryd voldoen. ABE Midas Naka Bulle het sommer binne die eerste minuut van die wedstryd toegeslaan met ’n drie deur die voormalige Bloubul vleuel, Kefentse Mahlo. Daarna het hulle regdeur voorgeloop, maar die Bosvelders van Northam het permanent in hul nekke geblaas – veral weens die drie drieë van hul skitterende skrumskakel en kaptein, Patrick Hattingh. Terloops, al is Hattingh as 30, sal dit niemand verbaas as een van die professionele franchises hom binnekort naderhark en met ’n kontrak beloon nie. Die wedstryd het redelik vroeg in die tweede helfte waarskynlik finaal in ABE Midas Naka Bulle se guns geswaai toe hul pak voorspelers ’n dryfbeweging van sowat 40 meter uitgevoer het, waarna Northam se Bloubul haker, Sydney Tobias, weens ’n siniese oortreding met ’n geelkaart gestraf is. ABE Midas Naka Bulle het daarna lyn toe geskop en na enkele fases kon buitesenter Johan Grobler onder die pale oorduik om die punteverskil na twaalf te rek. Hierna was Northam onder druk, terwyl die manne van die Moot koelkop gebly het en skitterend verdedig het teen hul desperate teenstanders. Hoede af vir die Bosvelders, wat aanhou probeer het en selfs met Hattingh se derde drie weer aan hulself ’n kans gegee het. ABE Midas Naka Bulle het egter vasgebyt en toe losskakel Danny Mokoabane se derde strafdoel deur die pale trek met ’n paar sekondes oor voor die eindfluitjie, was dit die trots van die Moot en hul ondersteuners wat kon begin feesvier.

  • ABE Midas Naka Bulle het Saterdag hul diepte bewys deur met die louere weg te stap in die tweedespan liga. Die manne van die Moot het Tuks se Fezelas met 40-37 in ’n opwindende en spannende wedstryd geklop om ook as kampioen gekroon te word.
ABE Midas Naka Bulle se tweedes is ook kampioene.
Foto: Frans Lombard
  • In die derdespan liga het Tuks afgereken met die merkwaardige span van Tuine Grizzlies, wat verwant is aan die Oryx Sewes akademie. Die eindtelling was 36-22 in die Grizzlies se guns.
Tuks se derdespan het hul liga gewen.
Foto: Frans Lombard
  • Die Blou Bulle klubligas se o.20A liga is ook verlede week afgehandel. Tuks het skoonskip gemaak in dié liga toe hul Young Guns teen hul o.20B span in die eindstryd te staan gekom het. Die Young Guns het met 55-7 gewen.
Tuks se Younguns (o.20 A) is die O.20 A-liga kampioen.
Foto: Frans Lombard

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button