Local sportSport

Hoërskool Oos-Moot wy nuwe astro hokkiebaan in

Die Hoërskool Oos-Moot het verlede week hul splinternuwe astro hokkiebaan amptelik in gebruik geneem tydens ’n seremonie wat heelwat aksie, maar ook trots en emosie opgelewer het.

Hokkie op skolevlak het oor die afgelope twee dekades só dramaties ontwikkel, dat hokkiebane met gras-oppervlaktes eenvoudig nie langer goed genoeg is vir spanne wat in die top ligas wil kompeteer nie.

Die top ligas is presies waar die Hoërskool Oos-Moot se hokkiespanne hulself bevind en daarom móés dié skool eenvoudig ’n plan maak om hul eie sintetiese astro hokkiebaan op die skoolterrein op te rig.

Soos die skoolhoof, Nico Kotzé, verelde week tydens die amptelike inhuldiging van die skool se spoggerige en splinternuwe astro hokkiebaan getuig het, het dié puik fasiliteit enkele jare gelede begin as net ’n droom.

Danksy die samewerking van die bestuur van die skool, ouers, borge en lede van die gemeenskap het dié droom egter vinnig vlerke gekry en byna presies twee jaar nadat die skool se beheerliggaam in Januarie 2020 goedkeuring gegee het dat daar met die bou van die baan voortgegaan kan word, is dit verlede week amptelik in gebruik geneem.

Devin Wilke, Hoërskool Oos-Moot se onderhoofseun van sport, aan die woord tydens die amptelike inhuldiging van die skool se splinternuwe astro hokkiebaan. Links staan Miandri Scholtz, onderhoofdogter van sport.
Foto: Koos Venter

Nou hoef die Oosies se hokkiespanne nie meer op die bane van die Universiteit van Pretoria te oefen en tuiswedstryde op te offer, omdat die skool nie ’n eie sintetiese baan het nie. Trouens, Hoërskool Oos-Moot het met hierdie nuwe wêreldklas fasiliteit die eerste skool in die Moot van Pretoria geword wat kan spog met ’n astro hokkiebaan.

Nadat daar besluit is dat Oos-Moot hul eie astro baan gaan bou is ’n voltydse hokkie-organiseerder ook deur die skool aangestel. Hy is Dario Lourenco, ’n voormalige provinsiale ster en nasionale speler.

Kotze het die verhaal van die realisering van die fasiliteit tydens die inhuldigingseremonie opgesom. Een van die merkwaardige aspekte daarvan is hoe die hele gemeenskap van die begin af saamgewerk het om die fasiliteit te bou. Dit het uiteindelik beteken dat die skool baie geld kon spaar. Behalwe vir borge wat kostes help dek het, was daar ouers en ander lede van die gemeenskap wat fisiek en op ander wyses gehelp het om die proses deur te voer.

Die fasiliteit is boonop in die noord-westelike hoek van die skoolterrein gebou en dit is só beplan en omhein, dat dit ook deur derde partye (klubs ens.) gebruik kan word sonder dat toegang tot die res van die skoolterrein nodig is.

’n Lugfoto wat geneem is tydens die inhuldiging van die Hoërskool Oos-Moot se nuwe astro hokkiebaan, dui die ligging van dié fasiliteit op die skoolterrein aan.
Foto: Verskaf

Verlede Vrydag se inhuldigingsgeleentheid het gepaard gegaan met fees-wedstryde, waarby selfs oud leerlinge van die skool betrokke was. Kotzé het die amptelike verrigtinge behartig toe hy seremonieel ’n lint geknip het om die baan in te huldig. Hy is hierin bygestaan deur Thea Coetzer, direkteur van onderwys vir Tshwane-Noord.

Kort tevore is daar deur die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Mathys Krog, aangekondig dat hulle besluit het om die nuwe astro-fasiliteit na die skoolhoof, Nico Kotzé, te vernoem. Krog het gesê dié besluit is ’n logiese uitvloeisel van Kotzé se belangstelling, betrokkenheid en passie vir dié projek om Oos-Moot se hokkie in lyn met die hoofstroom te bring.

Kotzé is reeds sedert 2000 by Hoërskool Oos-Moot betrokke, nadat hy as adjunk-hoof daar aangestel is. Hy is in 2020 tot skoolhoof bevorder.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button