Harlequins sit hul kragtoer in Carltonliga voort
World Sports Betting Carltonbeker toernooi van 2022 het sy halfpadmerk gehaal en dit lyk of die toernooi vanjaar selfs beter as verlede jaar kan word.
Dit wil voorkom of die Harlequins rugbyklub se eerstespan weerliks sterker word soos die seisoen vorder.
Dié span van Gert Mulder speel deesdae sulke kookwater rugby, dat hulle ongetwyfeld saam met ABE Midas Naka Bulle die gunstelinge moet wees om later vanjaar in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi se eindstryd uit te draf.
Quins het vir die soveelste keer vanjaar verras, deur Tukkies verlede week behoorlik pakslae te gee.
— Dit was nie noodwendig die feit dat Harlequins hul wedstryd teen Tuks gewen het, wat vir die verrassing gesorg het nie. Dit was eerder die reuse telling wat hulle in hierdie wedstryd behaal het en die agt drieë wat hulle gaan druk het, wat die wenkbroue in klubrugby-geledere sou laat lig.
Daar moet onmiddelik gesê word dat Tuks nie op volle sterkte kon wees nie. Dié klub se bestes is tans besig om voor te berei vir die University Sports South Africa (USSA) toernooi en heelwat sterre was nie Donderdag verlede week beskikbaar toe hulle Harlequins se geoliede masjien moes aanvat nie.
Nadat Quins tydens die wedstryd agt keer agter die doellyn gaan kuier het, terwyl Tuks net drie keer kon gaan druk, het die Blokkiestruie met 55-22 gewen. Maak nie saak hoeveel van Tuks se staatmakers nie kon speel nie, dié is ’n behoorlike pakslae.
— Intussen is ABE Midas Naka Bulle nou amptelik die nuwe houer van die Lucas Strachen skild. Dié trofee word deesdae oorhandig aan die klub wat voorloop op die puntelys ná afhandeling van die eerste rondte van die liga.
Die nuus was eintlik verlede week reeds bekend, aangesien die ABE Midas Naka Bulle só ver voor was op die punteleer, dat hulle nie meer ingehaal kan word nie.

Foto: Johanna de Vos
Marinus van der Watt se manne het hul oorheersing van die eerste rondte van vanjaar se World Sports Betting Carltonbeker toernooi egter die afgelope naweek onderstreep, toe hulle die moedige span van Centurion geklop het om die eerste rondte dus onoorwonne af te sluit.
Met hul vier drieë het die manne van die Moot net genoeg gedoen vir ’n bonuspunt oorwinning (26-20), terwyl Centurion self slegs twee keer kon gaan druk.
— Die wedstryd tussen die Northam Rhinos en Tuine se Grizzlies het ook opwindende rugby opgelewer.
Die Bosvelders het laat waai met aanvallende rugby om die Grizzlies met 39-10 te klop.
Tuine se manne het baie goed begin en teen rustyd was die spanne gelykop. Ongelukkig het die damwal toe na rustyd gebreek en die Rhinos kon met 29 onbeantwoorde punte redelik maklik wen.
— Nóg ’n verrassing van die naweek se klubrugby het gekom toe die sukkelende Rustenburg Impala daarin geslaag het om hul eerste wedstryd van die jaar te wen.
Impala het ses keer agter die doellyn gaan kuier om Pretoria Rugbyklub uiteindelik met 34-18 te wen.
Dis bekend dat Pretoria ook sukkel om te oorleef en in hierdie geval was hulle die swakker een van die twee sukkelende spanne.
Die tweede rondte van die World Sports Betting Carltonbeker begin op 16 Julie en groot pogings kan verwag word van spanne soos Centruion, die Northam Rhino’s en Tuks, wat gaan baklei vir ’n plek in die uitspeelrondte van die reeks.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
