Toutrek klubkampioenskap lok land se bestes na Pretoria
Die nasionale Toutrek klubkampioenskap is verlede week in Pretoria aangebied en die land se beste toutrekkers het by Toutrekpark in Gezina, Pretoria, byeengekom.
Toutrekpark in Gezina was verlede week ’n miernes van bedrywigehde, toe die land se beste klubs daar saamgekom het vir die Suid-Afrikaanse Toutrekfederasie se jaarlikse nasionale klubkampioenskap.
Toutrek is een van die oudste georganiseerde sportsoorte in die wêreld en daar is historiese verwysings na dié sport so ver terug as 800 jaar voor Christus.
Die Gauteng-Noord Toutrekfederasie was vanjaar verantwoordelik vir die aanbieding van hierdie groot geleentheid, terwyl klubs vanoor die hele land saamgetrek het in Gezina.
Spanne word ingedeel in basies twee kategorieë, naamlik ouderdom en gewig. Dan word spanne ook saamgestel volgens geslag, terwyl gemengde spanne ook in hul kategorie deelneem.
Die toernooi het oor twee dae plaasgevind. Op dag een was daar reeds groot opwinding en baie aksie. Deelnemende spanne was hoofsaaklik die liger gewigsafdelings.
Op dag twee het ’n paar van die swaarder spanne die gras op Toutrekpark behoorlik omgeploeg met hul intense kompetisie, veral tussen die spanne uit die Wes-Kaap en die plaaslike spanne van Pretoria.
Deur die loop van die naweek was daar ook vier seremonies waar verskillende nasionale spanne hul amptelike kleure ontvang het. Spanne soos die SA Presidentspan, die SA Gazelle span, die SA o.23 span en die senior Protea span sal almal hul land binnekort by verskillende internasionale kompetisies verteenwoordig.
Sommige van hierdie spanne het reeds die afgelope naweek deelgeneem aan die Afrika Kampioenskap in Swakopmund, Namibië. Ander is weer op pad na Engeland, waar die Wêreldspele later vandeesmaand sal plaasvind.
In September vanjaar word die Toutrek Wêreldkampioenskap in Nederland aangebied en Suid-Afrika sal daar natuulik ook verteenwoordig word.
Toutrek is ’n gesinsport, wat deur almal beoefen en geniet kan word. Volgens Anton Botha, President van die Suid-Afrikaanse Toutrekvereniging, groei die sport tans in Suid-Afrika en word dit in die Vrystaat en Noordkaap deesdae ook op skolevlak beoefen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.













