Hoërskool Die Wilgers maak byna skoonskip in Stadsbeker
Terwyl die plaaslike drie kompeteerders in die Noordvaal Beker toernooi die afgelope naweek gemengde sukses behaal het, het Die Wilgers in die afdeling vir medium skole vir die tweede jaar agtereenvolgens koning gekraai in die Stadsbeker kompetisie.
Hoërskool Die Wilgers het Saterdag so byna skoonskip gemaak in die Stadsbeker eindstryde vir mediun skole, waarvoor vyf van hul spanne gekwalifiseer het.
Met vier uit die vyf spanne wat uiteindelik as kampioene gekroon is, kan dié skool uitsien na die res van die seisoen, wanneer die Noordvaal-ligas in hul afdeling sal plaasvind.
Met al vyf van Die Wilgers se spanne wat vir die eindstryde gekwalifiseer het, is die wedstryde op dié skool se A-veld beslis.
Die dag het afgeskop met ’n oorwinning van 8-0 vir die o.14’s teen Curro Hazeldean. Daarna het die o.15’s ongelukkig met net vyf punte (7-12) teen Hoërskool Erasmus verloor, maar die o.16’s het hul skool weer laat juig toe hulle Stadsbeker kampioen geword het deur Erasmus met 25-13 te klop.
Intussen het Die Wilgers se tweedespan ook kans gekry om die Stadsbeker trofee te lig, toe hulle HTS Tuine op ’n tegniese punt geklop het (eerste drie van die wedstryd gedruk), nadat hul wedstryd met 18-elk gelykop geeindig het.
Die groot stryd het egter laaste gevolg, toe Die Wilgers se eerstespan probeer het om vir die tweede jaar agtereenvolgens die Stadsbeker vir Medium Skole in te palm. Hulle het dié tweekuns verwesenlik deur Hoërskool CR Swart met 33-27 in ’n taai en spannende stryd te klop.
Hoewel Die Wilgers hul teenstanders in die liga-fase geklop het, het hulle geweet dat ’n klipharde stryd sou voorlê.
Dié wedstryd was inderdaad ’n openbaring vir die kwaliteit van rugby op hierdie vlak. Beide skole is baie goed afgerig en het positiewe, aanvallende rugby gespeel. Nie een van die twee spanne was bang om die bal die werk te laat doen nie.
Albei spanne het voorlangs die pap dik aangemaak, maar hoewel Die Wilgers waarskynlik man-vir-man kleiner as hul teenstanders was, het hulle die skrums oorheers en beter met die bal gedryf.
Hoewel Die Wilgers as span goed saamgespeel het, kon die werverrigting op die aanval én verdediging van die haker, Tian Joubert, die slot Ruben Botha en die woelige flank, Tjaart du Plessis, nie misgekyk word nie.
Agterlangs het die twee puik losskakels, Armand Griesel van Die Wilgers en Godwin Engelbrecht van CR Swart sake beheer met twee afgeronde vertonings. Koketso Mnisi was egter CR Swart se groot angel agterlangs. Dié lenige binnesenter het nie net op die aanval uitgeblink nie, maar het sy span ook in die wedstryd gehou met 16 punte – 11 met die skopvoet, terwyl hy ook een keer gaan druk het.
Met drie drieë elk was Griesel se bydrae egter uiteindelik die verskil, hoewel sy span as sodanig op die dag beter as CR Swart was. Laasgenoemde was waarskynlik gelukkig om in die prentjie te kon bly met twee omstrede drieë, waarvan een in die laaste sekondes van die wedstryd gedruk is.
* Intussen het twee van die drie plaaslike skole in die Noordvaal toernooi Saterdag goeie oorwinnings behaal. Met die Noordvaal Beker toernooi wat einde se kant toe staan, het Hoërskool Garsfontein hul posisie bo-aan die punteleer verstewig deur Helpmekaar Kollege met 34-10 te klop.
– Dit lyk of Nico Luus se invloed by Hoërskool Menlopark begin vrugte afwerp en dié skool het verras deur een van die halfeindrondte-kandidate in die kompetisie, Hoërskool Dr. EG Jansen, met 23-19 te klop.
– Hoërskool Waterkloof het ongelukkig hul eie kanse op ’n plek in die halfeindrondte vertroebel, deur met 27-elk gelykop te speel teen Hoërskool Noordheuwel.
– Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) het hul a SupaQuick Premier Interskole wedstryd teen Maritzburg College met 29-12 gewen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



