Midstream Kollege wen Noordvaal trofee in hul vyftiende bestaansjaar
Midstream Kollege het Saterdag in moeilike omstandighede beter kopgehou as hul teenstanders uit Limpopo om uiteindelik as nuwe kampioen van die Noordvaal Trofee (Afdeling 2) gekroon te word.
Die Midstream Kollege in die suide van Centurion vier vanjaar hul 15de verjaardag en dié skool se eerste rugbyspan het die afgelope Saterdag aan hul skoolmaats, onderwysers en die hele Midstream gemeenskap ’n ekstra rede gegee om dié besondere jaar nog lank te onthou.
Hierdie jong skool se eerstespan het Saterdag geskiedenis gemaak deur as die nuwe Noordvaal trofee kampioen (Afdeling 2 – voorheen Grootskole) gekroon te word, toe hulle Hoërskool Merensky van Tzaneen in ’n klipharde en spannende eindstryd met 22-12 geklop het.
Maklik het dit beslis nie gegaan nie en daar was ’n fase in die wedstryd, veral tydens die laaste kwartier, waar honderde vingernaels kort afgekou is rondom Midstream se rugbystadion. Die einde van hierdie wedstryd het byna soos ’n Hollywood draaiboek afgespeel, wat sal verseker dat dié kampioenspan vir dekades nog legendes sal wees in die annale van Midstream Kollege.
Tegnies was Merensky dalk effens beter as die nuwe kampioen, maar Midstream se manne het gewys wat gedoen kan word met durf, karakter en goeie leierskap, terwyl hulle takties waarskynlik ook dié eindstryd beter benader het.
Aanvanklik het sake goed verloop vir die tuisspan, al moes hulle in die eerste helfte teen die sterk suidewind speel. Daarenteen het Merensky waarskynlik ’n groot strategiese blaps begaan deur in die eerste helfte nie dié wind-voordeel beter te benut nie.
Midstraem het eerste punte aangeteken met ’n strafdoel deur heelagter, Jaedon de Leeuw. Daarna het die besoekers die eerste drie van die wedstryd gaan druk, toe dié heelagter ’n losbal deurgeskop het en in die regter-hoek op die bal geval het.
Met die rustyd telling op 3-5 in die guns van die besoekers, was dit nog enigeen se wedstryd, maar Midstraem se ondersteuners was positief, want hulle het darem die voordeel van die sterk wind in hul blaaie gehad.
Kort na rustyd het die manne uit Limpopo hul voorsprong vergroot, toe hul losskakel en ster-speler van die dag, Phillip Ludick, ná ’n puik breekslag kon oorduik vir ’n verdoelde drie.
Die tuisspan het byna onmiddelik teruggeslaan en ná ’n mooi agterlyn beweging het regtervleuel Hilton Thomas afgerond. Die doelskop was egter mis en Merensky het steeds voorgeloop.
’n Kwartier voor die einde het Midstream uiteindelik weer die voortou geneem. Merensky het gebiedsvoordeel geniet en onophoudelik aangeval, maar toe senter Rowan Lindeque ’n bal naby die doellyn onderskep, het die skaal skielik geswaai. Lindeque het na sy linkervleuel, Nathaniël Manonga, laat loop, wat op sy beurt ore platgetrek het en ná ’n lopie van 70 meter onder die pale kon oorduik.
Met die telling op 15-12 was die uitslag steeds in die weegskaal en Merensky het hul oorheersing voorlangs gebruik om weer genadeloos aan te val. Dit was egter in hierdie laaste tien minute van die wedstryd waar Midstream se karakter en die skitterende leierskap van hul skrumskakel en kaptein, Rhynardt Henning, die verskil tussen vreugde en trane bepaal het.
Henning het sy manne bymekaargehou en regdeur geïnspireer, terwyl die tuisspan diep moes delf vir die energie om aan te hou verdedig teen Merensky se aanvalle.
Toé volg die sprokies-einde, nadat Henning omgekeerde besit opgepik het en Thomas in besit kon stel diep in sy eie kwartgeibied. Niemand sou dié provinsiale atleet kon stuit nie en hy het die oorwinning verseël met ’n sierlike duikslag vir sy tweede drie onder die pale.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






