Dis Naka teen Northam en Quins teen Centurion in Carlton halfeindstryde
Die afgelope naweek se laaste rondte wedstyrde in die World Sports Betting Carltonbeker liga het weer gewys dat enige van die vier top spanne moontlik op 24 September as die 2022 kampioen gekroon kan word.
Die laaste week van ligabepalings in die World Sports Betting Carltonliga het meer as een verrassing opgelewer, maar niks hiervan het uiteindelik enige verandering op die finale puntestand tot gevolg gehad nie.
Die spanne wat teen die verwagting in verloor het, was ABE Midas Naka Bulle en Harlequins, maar albei het genoeg gedoen om hul plekke as die top twee spanne op die punteleer te behou.
Daarbenewens het Centurion se verrassende oorwinning oor ABE Midas Naka Bulle hulle gehelp om steeds bo Northam se Rhinos te eindig, hoewel die Bosvelders ’n reuse oorwinning teen die Grizzlies van Tuine behaal het.
Dit beteken dus dat die halfeindstryde op Saterdag 17 September op ABE Midas Naka Bulle en Harlequins se velde sal plaasvind, met Northan se Rhinos wat die verdedigende kampioen sal aanvat in ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd, terwyl Harlequins en Centurion sake in die ander halfeindstryd sal uitspook.
– Die grootste verrassing van die naweek was Centurion se oortuigende oorwinning teen die verdedigende kampioen. Riaan Brand se manne het vier drieë gedruk om die manne van die Moot met 35-19 te klop.
Soos genoem verander dit niks aan ABE Midas Naka Bulle se status op die punteleer nie en hulle eindig steeds gemaklik in die eerste plek. Wat wel sal seermaak is dat Marinus van der Watt se manne sekerlik graag hul vlekkelose en baie merkwaardige rekord van die seisoen ongeskonde sou wou behou.
Hierdie wedstryd was egter nie net ABE Midas Naka Bulle se eerste nederlaag van die seisoen nie, dit was ook die eerste wedstryd waarin hulle nie vier drieë kon druk nie. Dit beteken dat hul “volmaakte” stand op die punteleer in die laaste ligawedstryd van die seisoen geskend is.
– Hoewel Harlequins heelwat beter gevaar het as verlede week tydens hul skok-nederlaag teen die Grizzlies van Tuine, kon hulle egter nie daarin slaag om Tuks vir ’n tweede keer in een seisoen te klop nie.
Die telling was uiteindelik 28-27 in Tuks se guns, ná ’n spannende einde, waartydens Quins hul kanse verbeur het om die wedstryd met ’n strafdoel òf selfs met ’n drie te wen.
Die enkele ligapunt wat Harlequins egter verdien het weens die feit dat hulle met minder as sewe punte verloor het, beteken dat hulle steeds tweede op die punteleer eindig. Al het hulle en Centruion met dieselfte hoeveelheid ligapunte geëindig, lyk Quins se punteverskil effens beter.
– Die Rhinos van Northam het met hul oorwinning van 64-22 teen die Grizzlies van Tuine seker gemaak dat hulle vierde eindig.
– In die houtlepel stryd het Pretoria daarin geslaag om Rustenburg Impala met 40-24 te klop. Dit beteken dat Impala laaste op die punteleer eindig, wat verseker dat hulle binnekort in ’n promosie-relegasie stryd teen die Presidentsliga kampioen, die Wolverines van Hartbeespoort, betrokke sal wees.
* Sover bekend is dit die eerste keer in meer as 20 jaar dat Tuks nie daarin kon slaag om vir ’n halfeindstryd te kwalifiseer of ten minste tussen die top vier spanne in die Carltonbeker liga te eindig nie. Daar was wel die afgelope twintig jaar sekere seisoene waar geen halfeindstryde of self amptelike eindstryde plaasgevind het nie, maar 2022 sal onthou word as Tuks se swakste Carltonbeker seisoen in meer as twee dekades.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



