Groot vreugde by die inwyding van Klofies se nuwe swembad
Een van die Hoërskool Waterkloof se groot drome van die afgelope twee dekades het verlede week waar geword toe hul eie swembad op die skoolterrein amptelik geopen is.
Die dae dat Hoërskool Waterkloof se swem-afrigter, Dewald Maré, sy swemmers per bus heen en weer moes karwei na swem-oefeninge, is vir ewig verby.
’n Jarelange droom, wat reeds byna 20 jaar gelede die eerste keer by die bestuur van dié skool ontstaan het, het nou waar geword onder die leiding van die nuwe hoof, Chris Denysschen, en sy dinamiese beheerliggaam.
Die Klofies se swemspan was verlede week tydens die amptelike opening van hul splinternuwe swembad op die skoolterrein bereid om die effens koel aandlug te trotseer, maar toe die teken gegee word, was hulle in die water en daar is geswem dat die skuim so spat.
Verskeie hooggeplaaste gaste was ook teenwoordig toe Denysschen vertel het hoe dié droom uiteindelik na soveel jare waar geword het.
Lesley Bosman, wat as kontratteur by die projek betrokke was, het gaste tydens die opening van die swembad oortuig dat Hoërskool Waterkloof “nooit sal stagneer” onder Denysschen se leierskap nie, aangesien hy “groter as die res kan droom, maar ook kan doen…”

Foto: Koos Venter
Die professionele swemmer en Suid-Afrikaanse kampioen in die 200m rugslag, Ruan Ras, was die gasspreker tydens die amptelike opening van die swembad. Ras het sy boodskap veral aan die swemmers van die skool gerig en hulle aangemoedig om die fasiliteit te gebruik om hul drome na te jaag.
Ras het gesê dat swem as individuele sport soms groot uitdagings bied, maar dat belangrike lewenslesse oor aspekte soos toewyding, dissipline en harde werk ook in die swembad geleer word.
Die skool se swemafrigter, Dewald Maré, het verskeie ander sprekers by die geleentheid se sentiment beklemtoon oor die sterk premie wat die skool op die getuienis van hul geloof plaas met hul deelname aan sport. Hy het vertel hoe daar vooraf besluit is om ’n spesiale bybel deel te maak van die swembad se fondasie en dat die skool daarmee ’n besondere getuienis wil lewer.
Maré het aan Rekord gesê dat die realiteit van ’n eie swembad vir Waterkloof besonder baie logistieke skruikelblokke uitskakel, maar dat dit ook nuwe geleenthede skep wat voorheen nie bestaan het nie.

Foto: Koos Venter
“Ons het reeds planne om skuba-duik lesse aan te bied. Die swembad is regdeur twee meter diep en kan dus ideaal hiervoor gebruik word. Ook waterpolo en selfs sportsoorte soos onderwater hokkie sal nou ’n werklikheid vir ons leerlinge kan word,” het Maré gesê.
Ongelukkig sal amptelike galas en provinsiale- of nasionale rekords nie in die swembad verbeter kan word nie, aangesien dit weens spasieprobleme nie breed genoeg gebou kon word om agt bane in te pas nie. Dit is wel presies 25m lank en in dié opsig op kortbad-standaard, maar die gebrekkige breedte kan slegs ses bane akkomodeer.
Hy het ook beklemtoon dat ander sportkodes by die skool nou die geleentheid het om die skool se eie swembad te gebruik vir dinge soos reabilitasie van beserings en herstel van seer spiere na deelname aan wedstryde of harde oefening.
“Hierdie swembad is ’n reuse bate vir die skool wat baie verder strek as net die beoefening van watersport,” het Maré afgesluit.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram