Local sportSport

Bekendes span saam om behoeftige sportlui te help

Die meeste spotmanne beskou sportbybehore soos drafskoene of rugbystewels as ’n noodsaaklikheid wat eenvoudig aangekoop moet word om sport te beoefen, maar besef nie dat daar veral skoolkinders in Suid-Afrika is wat hierdie deel van hul uitrusting vir deelname aan sport bloot nie kan bekostig nie.

Dit is reeds oor en oor bewys dat Suid-Afrika ’n land is wat oorloop van sporttalent.

Daar is byna geen sportsoort wat in hierdie land beoefen word, waar Suid-Afrikaners nie ten minste op gelyke voet met die bestes in die wêreld kan kompetseer nie.

Tog gaan daar ook jaar na jaar onnodig baie talent verlore in verskeie sportsoorte, omdat voornemende deelnemers òf nie gelyke geleenthede kry op hoër vlak nie, òf omdat begaafde jong sportlui hul gunsteling sportkode vaarwel moet toeroep, aangesien hulle nie kan bekostig om daaraan deel te neem nie.

Vir die meeste mense is die aankoop van ’n paar rugbystewels, spykerskoene of drafskoene ’n blote formaliteit op pad na die bereiking van hul doelwitte as sportlui. Maar nie almal besef dat daar tussen ons – ook onder Afrikaners – behoeftiges is wat eenvoudig nie hierdie basiese hulpmiddels kan bekostig nie.

Volgens getuienisse is daar honderde skoolkinders in ’n stad soos Pretoria wat nie eers elke dag ’n behoorlike maaltyd ontvang om die innerlike te versterk nie. ’n Mens kan dus dink dat “luukshede” soos rugbystewels of drafskoene om aan sport deel te neem, redelik onder op hul prioriteitslys is.

Die oud Springbok rugbyspeler en deesdae wêreldbekende skop-afrigter, Vlok Cilliers, het al wyd gereis met sy bekende skopklinieke. Cilliers, wat deesdae ook by die Franse nasionale span betrokke is, het tydens sy reise deur Suid-Afrika onder die indruk gekom hoe groot die behoefe is wat bestaan onder baie Suid-Afrikaners – veral onder skoolkinders – om net ’n eie stel rugbystewels of drafskoene of ander sporttoerusting te besit.

Cilliers het besluit om met Solidariteit se Helpende Hand te gesels en kort voor lank is daar op samewerking besluit, wat die ‘Tekkies en Toks’-projek tot gevolg gehad het. Hy word in hierdie projek bygestaan deur die Springbok- en Bloubul legende, Morné Steyn.

Die vier bekende sportpersoonlikehede wat verlede week deelgeneem het aan ’n baie inetressante paneelgesprek oor behoeftige sportlui en veral kinders wat weens geldtekort nie sportskoene en -toerusting kan bekostig nie. Van links is dr. Henning Gericke, Vlok Cilliers, Breyten Paulse en Morné Steyn.
Foto: Yolandi Annandale

Die projek fokus tans op skoliere wat behoeftig is en dringend sportskoene of sporttoerusting benodig.

Cilliers verduidelik die idee vir die projek is gebore uit die talle uitdagings wat behoeftige mense ervaar en wat boonop weens die Covid-19-pandemie geëskaleer het.

“Mense het hul werke en selfs hul lewens verloor. Met dié projek wil ons poog om saam met ʼn groot instelling soos Helpende Hand weer hoop te bring. Kinders lê my na aan die hart, en as ons kinders kan help om beter geleenthede te ontvang, dan moet ons help waar ons kan,” het Cilliers verduidelik.

Celliers en Steyn het verlede week met ander bekendes soos die sportsielkundige, dr. Henning Gericke en die voormalige Springbok vleuel, Breyton Paulse, saamgespan om met ’n gala-geleentheid in Centurion geld in te samel vir die projek.

Hulle was almal deel van ’n paneelbespreking wat verskeie onderwerpe rondom die projek bespreek het. Een van die onderwerpe onder bespreking was of daar te veel druk op kinders geplaas word om te presteer in Suid-Afrika.

Gaste kon kaartjies koop om die gala-aand by te woon, terwyl ’n reuse veiling ook aangebied is, waartydens rugby memorabilia, opgeveil is vir die organisasie. Meer as R108 000 is op hierdie wyse ingesamel. 

Steyn, die projek se ambassadeur, sê hy is opgewonde en besonder trots om deel van die projek te wees.

“Baie van ons aanvaar dit as vanselfsprekend om elke dag ʼn paar skoene aan te trek en met tokse op die rugbyveld uit te draf. Tog is daar eintlik soveel mense wat dit net nie kan bekostig nie. Hiermee wil ons ʼn verskil maak, en ons hoop ons kan die publiek se harte aanraak om ons te help,” het Steyn gesê.

Besoek gerus Tekkies en Toks se webwerf by www.tekkiesentoks.co.za vir meer inligting oor die projek.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button