Twee sterre van Hoërskool Zwartkop reg vir internasionale deelname
Twee skooldogters van Centurion is deel van die nasionale landloopspan wat hierdie naweek in Australië aan die wêreldkampioenskap gaan deelneem.

Die Hoërskool Zwartkop in Centurion is bekend vir die skitterende atlete wat dié skool al jare lank oplewer.
Dis veral in die middelafstande-items wat Zwarries se atlete uitblink, terwyl die skool uiteraard ook puik presteer in landloop.
Hierdie feit word onderstreep deur die insluiting van twee Zwarrie-atlete in die Suid-Afrikaanse span wat vroeër vandeesweek na Australië vertrek het om deel te neem aan die landloop wêreldkampioenskap.
Slegs elf juniors (ses seuns en vyf meisies) is ingesluit by die Suid-Afrikaanse span. Ongelukkig vir hierdie twee skooldogters van Zwartkop is daar selgs een junior kategoerie (o.20, 6km wedloop) en hulle sal dus op hierdie wêreldverhoog baie strawwe teenstand kan verwag van atlete wat oor die algmeen ook baie ouer as hulle is.
Volgens die twee meisies se afrigter by Zwartkop, Willie Engelbrecht, beskou hy hierdie avontuur van sy twee atlete beslis nie as ’n medalje-jag geleentheid nie, maar eerder as ’n geleentheid om hulself teen die wêreld se bestes te toets, asook om waardevolle ondervinding op te doen.

* Li-Marie Dekker is in matriek en tans nog 17 jaar oud. Sy spog egter reeds met ’n atletiekloopbaan vol top prestasies. Sedert sy op 9-jarige ouderdom ernstig begin oefen het, het Dekker op ’n jaarlikse grondslag verbeter en rekords laat spat so ver as wat sy gevorder het.
Sy kan ook spog dat sy as baanatleet reeds twee keer as SA skole-kampioen in die 1500m item gekroon is, terwyl sy ook al ’n silwer medalje losgeslaan het in die 300m op nasionale vlak.

Foto: Hoërskool Zwartkop
Dekker was ook enkele jare gelede as o.13 ateleet die nasionale landloop kampioen, terwyl sy daarna gereeld onder die medaljewenners by die nasionale landloop kampioenskap was.
Met Zwartkop se puik prestasies uit die verlede is die skool se plaaslike rekords uiteraard op ’n baie hoë vlak, maar Dekker het die afgelope twee seisoene verskeie daarvan verbeter. Sy het verlede jaar ook die gesogte Noordheuwel Top 15 byeenkoms in ’n rekord-tyd gewen.
* Saam met Dekker is nog ’n Zarrie, die 16-jarige Wiepke Schoeman, ook deel van die SA span. Sy spog ook met ’n rits prestasies, beide as baanatleet en in landloop.
Schoeman sal die jongste lid van die nasionale span wees in Australië, maar die feit dat Schoeman as 16-jarige gekies is om aan hierdie wêreldkampioenskap deel te neem, wys haar potensiaal.

Foto: Hoërskool Zwartkop
Sy is verlede jaar as die SA landloop kampioen (o.16) gekroon, tewyl sy ook by die nasionale skole-kampioenskap medaljes verower het in die 300m en 1500m items.
Volgens Engelbrecht vind die kampioenskap in Australië ongelukkig buite die plaaslike seisoen plaas, maar hy glo sy twee atlete is goed voorberei en gereed om hul beste te lewer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
