Local sportSport

Loftus 200 span wys die krag van Bloubul klubrugby

Die Loftus 200 rugbyspan, wat bestaan uit spelers van Carltonbeker klubs, het Saterdag op Loftus Versfeld verras toe hulle die professionele span van die Griffons, wat vanjaar ook die nuwelinge in die Curriebeker Premierliga gaan wees, geklop het.

Hoewel die Bulls Saterdag op Loftus Versfeld nie die knoop kon deurhaak teen die Stormers nie, was daar tog ’n ligpunt vir Bulls ondersteuners tydens die voorwedstryd wat in die stadion plaasgevind het.

Die ou bekende Loftus 200 span, wat saamgestel word uit spelers wat betrokke is by die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker klubs, het in 2018 herleef danksy die inisiatief van die Blou Bulle se president, Willem Strauss.

Vir die Bloubul klubs het die seisoen nog nie amptelik begin nie en bittermin van die klubspelers het vanjaar alreeds wedstryd-oefening gehad. Tog is 30 manne uit al die Carltonbeker klubs – behalwe Tuks, wat vandeesweek met hul Varsitybeker veldtog begin – nadergetrek om onder die ervare afrigter, dr. Phill Pretorius, se leiding vir hierdie wedstryd voor te berei.

Dr. Pretorius is een van die mees ervare en berese afrigters in Suid-Afrika. Hy het juis sy tande as afrigter in die Carltonbeker liga geslyp, toe hy in die dekade voor die aanbreek van profssionele rugby aan die stuur van sake by die destydse Normaalkollege van Pretoria (NKP) betrokke was.  Daarna het hy op plaaslike vlak spanne soos Suidwestelike Distrikte, die Valke, die Bulls se SuperRugby span, Maties en Oostelike Provinsie afgerig, voordat hy oorsee sy kennis gaan deel het. In hierdie tyd het hy beide op klub- en internasionale vlak in Ierland, Sri Lanka, die Kaaiman-eilande en die Tsjeggiese Republiek afgerig.

Onder dr. Pretorius se leiding het die Loftus 200 span Saterdag verras deur die Griffons van Welkom met 26-22 te klop.

Die Griffons is ná hul sukses in verlede jaar se Curriebeker Eersteliga gepromoveer en sal vanjaar deel wees van die Premierliga in dié kompetisie, waar hulle saam met die groot honde moet blaf. Juis daarom is die Loftus 200 span se oorwinning so betekenisvol.

Hoewel die Griffons se kondisionering waarskynlik op hierdie stadium beter is as dié van die plaaslike klubrugby-manne, het die Loftus 200 span nie ’n tree vir hulle teruggestaan nie. Na drie drieë in die eerste helfte het die Loftus 200 span teen rustyd reeds met 19-10 voorgeloop.

Ná rustyd het die Noord-Vrystaters hard teruggeveg en veral in die laaste kwart van die wedstryd gevaarlik gelyk, maar die plaaslike manne het vasgebyt en bygehou. Hoewel die besoekers in die tweede helfte twee drieë teen die Loftus 200 manne se een gedruk het, het die meer akkurate skopvoete van Hendrik Mulder en Danny Mkoabane ’n groot verskil gemaak vir die Loftus 200 span.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button