Menlopark wen eerste Curro Podium atletiekbyeenkoms, Curro Hazeldean rig waarskuwing aan Pretoria C-bond teenstanders
Die eerste Curro Podium Atletiekbyeenkoms, waaraan skole-atletiekspanne van top skole uit drie verskillende provinsies, sowel as een van Suid-Afrika se buurlande deelgeneem het, was propvol aksie en opwinding op die vooraand van Pretoria se jaarlikse liga-byeenkomste.
Die Hoërskool Menlopark se atlete het die afgelope Saterdag tydens die Curro Podium Atletiekbyeenkoms op die Pilditch baan in Pretoria-Wes gewys dat die skool wat hulle eerskomende Vrydag as A-bond kampioen wil onttroon, ’n baie spesiale poging sal moet aanwend.
Hierdie uitsonderlike atletiekbyeenkoms is die breinkind van Curro Holdings, die beheermaatskappy van die Curro Skole. Daar word beoog om die byeenkoms ’n jaarlikse instelling te maak en vanjaar se eerste poging is skitterend en seepglad aangebied deur Curro Hazeldean van Pretoria-Oos.
Top skole vanuit drie verskillende provinsies, Gauteng, die Wes-Kaap en Mpumalanga het deelgeneem aan die byeenkoms, terwyl die verrigtinge ook kontinentale status gehad het met die deelname van twee skole uit Namibië. Altesaam 40 skole het spanne ingeskryf vir die byeenkoms.
Sewe skole uit die Curro-groep was deel van die aksie. Onder hierdie skole was dit die gasheer, Curro Hazeldean, wat die meeste aandag getrek het met hul vertoning. Deur agtste uit 35 skole (met seuns- en dogters spanne) te eindig het Curro Hazeldean gewys dat hulle gereed is om vanjaar hul stem dik te maak by Pretoria se C-bond byeenkoms, wat eerskomende Woensdag op dieselfde baan plaasvind. Dit sal na dese niemand verbaas as dié opkomende skool vanjaar as C-bond kampioen eindig nie.
Menlopark het skoonskip gemaak deur beide die seuns- en dogters-afdelings te wen. Hulle is op die algehele puntetabel gevolg deur Helpmekaar Kollege van Johannesburg, Paarl Gimnasium van die Wes-Kaap, Hoërskool Montana, Hoërskool Noordheuwel, Prestige College van Hammanskraal, Hoërskool Zwartkop, Curro Hazeldean, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Nelspruit.
Omdat hierdie die eerste byeenkoms van sy soort was, sal al die wentye, -afstande en -hoogtes uiteraard as rekords aageteken word.
Daar was egter ’n paar skitterende individuele vertonings, wat een nuwe SA-skole rekord ingesluit het. Die vier top presteerders, wat almal daarin geslaag het om volpunte op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel te verdien, was Alicia Khunou (o.17) van Menlopark met haar 50.18m in die diskus en 17.34m in die gewigstoot; Ashley Erasmus (o.19) van Noordheuwel met haar 16.54m in die gewigstoot; Hencu Lamberts (o.17) van Afrikaans Hoër Seunskool met sy 19,73m in die gewigstoot en Timeke Coetzee (o.17) van Afrikaans Hoër Meisieskool met haar 6.53m in die verspring. Daarmee het Coetzee die 23-jaar oue SA o.18 rekord van Delia Visser (6,37m) verbeter.
Armand van der Walt (o.19), Garsfontein se blitsige naelloper, het ook weer baie aandag getrek met sy tweekuns in die 100m (10.19s = 963 APE punte) en die 200m (20.43s = 965 APE punte). Hy gaan moeilik geklop word op Vrydag se A-bond byeenkoms.
Die sogenaamde “Classic Shoot Out” items, wat deel van die dag se program was, het ook vir hoogtepunte in vermaak vir die toeskouers gesorg. Hierdie aksie het bestaan uit interessante en skaars atletiek-items soos 300m en 60m wedlope, waaraan sommige van Suid-Afrika se grootste atletieksterre deelgeneem het.
Suid-Afrika se twee naelloop sterre, Akani Simbine (6.53s) en Carina Horn (7.30s) het die 60m wedlope gewen, terwyl twee internasionale sterre uit twee van ons buurlande, Tebogo Letsile van Botswana (31.52s) en Beatrice Masilingi van Namibië (34,60s) die 300m wedlope gewen het.
Letsile se tyd is die 9de vinnigste buitenshuise tyd ooit oor 300m, terwyl Masilingi maklik met twee plaaslike sterre, Miranda Coetzee (36,48s) en Zeney van der Walt (36, 62s) afgereken het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







