Local sportSchool sportSport

B-bond atletiek bring skole uit drie streke in Pretoria, sowel as plattelanders uit Noordwes bymekaar

Terwyl sikloon Freddy dreig om groot reën oor die oostelike dele van Suid-Afrika te laat val, het deelnemende skole aan die Pretoria B-bond skole-atletiekbyeenkoms Donderdag in bedompige hitte meer belanggestel om golwe te maak op die paviljoen van die Pilditch atletiekstadion.

Die uitbundigheid waarmee leerlinge van die agt deelnemende skole aan die Pretoria B-bond atletiekbyeenkoms Donderdag in die Pilditch stadion hul atlete-maats uit die paviljoen aangemoedig het, het die indruk gelaat dat hulle waarskynlik besef hoe gelukkig hulle is om so-iets te kan beleef.

’n Meerderheid van hulle behoort immers aan ’n geslag skoliere wat weet hoe dit is om van hierdie voorreg ontneem te word, nadat Covid die afgelope twee jaar hul pret bederf het.

Donderdag was die afgelope twee jaar se Covid terugslae egter iets van die verlede.

Behalwe vir die ooste en weste van die stad, was Pretoria strategies baie goed verteenwoordig in terme van deelnemende skole. Uit die noorde het die meeste verteenwoordiging gekom, met Hoërskool Akasia, Hoërskool Overkruin en Hoërskool Pretoria-Noord wat opgeruk het van anderkant die Magaliesberg.

Dan was daar twee skole uit die suide met die teenwoordigheid van Hoërskool Eldoraigne en Hoërskool Centurion.

Die Moot van Pretoria is verteenwoordig deur Hoërskool Oos-Moot, wat die byeenkoms met groot sukses en styl aangebied het, asook Hoërskool Wonderboom, die nuweling wat verlede jaar uit die C-bond gepromoveer is.

Die agtste skool se verteenwoordigers moes uit Noordwes reis, maar Hoërskool Brits se atlete en ondersteuners het nie ’n tree teruggestaan vir die stadsjapies nie.

Kleurryke rasieleiers, toeskouers met helderkleurige hoede en vlae, asook balonne en plakkate met aanmoedigingsboodskappe vir die atlete was oral op die paviljoen te bespeur. Hierdie toneel het alles bygedra om die gees in die stadion heeldag op ’n hoogtepunt te hou, terwyl puik skole-atletiek op die baan en in die veld aan die orde van die dag was.

Rekord sal Vrydag-oggend weer aanlyn volledig verslag doen oor die aksie wat plaasgevind het en hoe die agt skole teen mekaar opgeweeg het.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button