Hoërskool Oos-Moot te sterk vir teenstanders by B-bond atletiek interhoër
Daar was Donderdag geen keer aan Hoërskool Oos-Moot se atlete nie en dié skool het redelik maklik met hul sewe teenstanders afgereken tydens die Pretoria B-bond atletiekbyeenkoms op die Pilditch baan.
Die Hoërskool Oos-Moot se atletiekspan sal in 2024 wéér saam met die groot honde blaf.
Dít volg nadat dié skool se atlete Donderdag eenvoudig te sterk was vir al hul teenstanders in die Pretoria B-bond liga, wat op die Pilditch baan in die weste van die stad aangebied is.
Die Oosies se seuns- en meisies spanne het skoonskip gemaak deur albei gemaklik hul afdelings te wen teen sterk opposisie, wat van oral oor Pretoria deel was van die byeenkoms. Oos-Moot het die dag afgesluit met 2608 punte, 275 punte voor hul naaste teenstander, Hoërskool Eldoraigne (2333).
In die derde plek was Hoërskool Centurion (2213), gevolg deur Hoërskool Overkruin (2055,5), Hoërskool Pretoria-Noord (1925,5), Hoërskool Brits (1925), Hoërskool Akasia (1857,5) en Hoërskool Wonderboom (1808,5).
Terwyl hierdie uitslag beteken dat Oos-Moot in 2024 weer na die Pretoria A-bond gepromoveer sal word, is die teenoorgestelde ongelukkig waar vir Wonderboom. Die Wonnies het verlede jaar die C-bond gewen en is daarna na die B-bond gepromoveer, maar sal dus nou in 2024 weer in die C-bond kompeteer, terwyl Sutherland High School, wat Woensdag die C-bond gewen het, sal opskuif na die B-bond.
Hoewel die byeenkoms kookwater atletiek opgelewer het en veral die top drie skole (Oos-Moot, Eldoraigne en Centurion, met Overkruin kort op hul hakke) mekaar behoorlik die stryd aangesê het, het slegs drie byeenkoms-rekords op die dag in die slag gebly.
Mila Rodenburg van Brits het die verspring vir meisies o.15 met ’n nuwe rekord afstand van 5,52m gewen. Matthew Burnett van Oos-Moot (o.19) se nuwe rekord in die 800m staan nou op 1:52,63s en Luané Smith van Eldoraigne het met haar indrukwekkende vertoning in die 3000m vir meisies o.15 in bedompige hitte ’n nuwe rekordtyd van 11:05,75s gehardloop.
Rodenberg se tyd van 13,59s in die 90m hekkies vir meisies o.15 was waarskynlik die beste vertoning van die dag. Dit is 903 punte werd op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel.
Oos-Moot het die dag afgesluit deur hul oorheersing op die baan te onderstreep toe hulle aflosspanne ses uit tien items gewen het, terwyl nog drie van hul aflos spanne silwer medaljes verower het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






















































