Local sportSport

Noordelikes stig eie netbalklub

Ná die sukses van die herlewing van Noordelikes rugbyklub, is daar onlangs besluit om ook ’n netbalklub te stig, om aan die vrouens van die noorde van Pretoria die geleentheid te skep om ook aktief aan ’n spansport deel te neem.

Die Noordelikes rugbyklub het die afgelope twee seisoene met groot sukses herleef en vanjaar reeds hul stem dik gemaak in die Blou Bulle se Presidentsliga.

Noudat die rugbyklub weer gevestig is, was dit tyd vir die bestuur om na die volgende stap oor te gaan in hul strewe om dié klub weer as ’n ware sport- en ontspanningstuiste vir die gemeenskap van die Noorde uit te bou.

Uiteraard moes die dames volgende aan die beurt kom. Daarom is die Noordelikes netbalklub enkele weke gelede gestig.

Volgens die voorsitter van Noordelikes, Johan Beukes, is die doel van hierdie netbalklub nie net om ’n geleentheid vir die dames van die Noorde – oud en jonk – te skep om aktief te wees en ’n sport te beoefen nie, maar ook om sosiale kohesie te bevorder.

Ongelukkig is die klub se terrein in Jopie Fouriestraat self nog nie gerat om ’n netbalklub te huisves nie. Dít is ’n droom wat op die langer termyn nagejaag sal word. Tans is die netjiese weervaste netbalbane by die Pretoria-Noord Sportklub in Gerrit Maritzstraat (ingang in Jan van Riebeeckstraat) egter tot die beskikking van die nuwe netbalklub.

Dié terrein, waar die plaaslike tennis- en rolbalklubs ook gesetel is, beskik oor weervaste bane en ablusie geriewe. Ongelukkig het die beligting deurgeloop onder vandale, maar vir Noordelikes se manne was dit geen onoorkombare probleem nie. Daar is reeds begin om nuwe ligte te installeer, sodat die dames saans kan oefen.

Die afgelope Maandagaand het die klub ook besoek gehad van Franna Cilliers van Living Ball Ministry, wat ’n aantal balle aan die klub geskenk het. Cilliers het die dames en jong meisies toegespreek en geïnspireer om dié sport te beoefen, nie net om die liggaam gesond te hou nie, maar ook die gees.

Volgens die ondervoorsitter van die Noordelikes netbalklub, Lizzy Middleton, beplan hulle om by die Linca Netballiga, wat by die Munies-sportterrein in Riviera gevestig is, aan te sluit. Alle dames, junior en senior (vanaf ouderdom 14-jaar tot die fikse oumas) is welkom om aan te sluit. Die klub beskik reeds oor gesoute afrigters en skeidsregters wat leiding sal neem by die oefeninge, wat op Maandae en Woensdae vanaf 18:00 tot 20:00 sal plaasvind.

Hoewel die ligas eers vroeg volgende jaar weer sal hervat, is daar ruim geleentheid vir deelname aan ander toernooie in die maande van 2023 wat oorbly. Daar word byvoorbeeld beplan om in Oktober reeds aan ’n spesiale netbaldag in Brakpan aan die Oosrand deel te neem.

Vir enige verdere inligting kan Lizzy Middleton geskakel word by 066-340-1604.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button