Naka Bulle vier groot sukses van 2023-seisoen
Naka Bulle, wat vanjaar nie net as die Blou Bulle se top klub gekroon is nie, maar ook met die verowering van die Gold Cup as beste oop-klub in die land aangewys is, het die afgelope naweek hul spelers, afrigters en amptenare tydens ’n spoggerige prysuitdelingsfunksie vereer.
Dis teen hierdie tyd algemene kennis dat Naka Bulle vanjaar hul heel beste seisoen in dié klub se geskiedenis beleef het.
Behalwe dat die klub se eerstespan die Carltonbeker toernooi vanjaar vir die tweede keer in drie seisoene gewen het, is hulle in Oktober ook as nasionale klubkampioen gekroon toe hulle College Rovers van Durban in die eindstryd van die Gold Cup toernooi pakgegee het.
Wat egter nie so algemeen bekend is nie, is dat Naka Bulle vanjaar ook uiteindelik daarin kon slaag om ’n jarelange doelwit te bereid deurdat al vyf hul spanne (drie senior en twee o.20 spanne) kon kwalifiseer om in die halfeindrondte van hul belangrikste ligas te speel.
“Ons het hierdie doelwit jare gelede gestel, want dit is ’n goeie maatstaf oor hoe jou klub oor die algemeen vaar en hoeveel sukses jy regdeur die geledere van die klub behaal. Dit help nie ’n mens se eerstespan is ’n kampioen, maar die res van jou klub se spanne sukkel om in hul ligas die mas op te kom nie. As jy egter met al vyf jou belangrikste spanne ten minste die halfeindrondte van die liga haal, kan jy sê jou klub word suksesvol bedryf,” het Naka Bulle se voorsitter, Ian Herbst, Vrydagaand tydens die klub se jaarlikse prysuitdelingsfunksie gesê.
Die diepte van Naka Bulle se senior spanne is tydens die eerste rondte van die Carltonbeker liga vanjaar deeglik getoets, toe ’n groot deel van die klub se spelers aan die San Clemente Rhinos geleen is om hul verpligtinge in die provinsiale Mzanzi reeks af te handel. Ten spyte hiervan het die klub se eerstespan slegs een ligawedstyrd verloor, terwyl hulle uiteindelik met die Northam Rhinos in die eindstryd afgereken het om as Carltonbeker kampioen gekroon te word.
Daarna het hul suksesvolle veldtog in die Gold Cup toernooi gevolg.
Só ’n suksesvolle seisoen lewer natuurlik baie prestasies en presteerders op en dit is presies wat die Naka Bulle Vrydagaand tydens ’n swierige fuksie onder ’n spoggerige markiestent op die klub se A-veld kon vier.
Verskeie pryse is toegeken, waarvan die belangrikste natuurlik die Speler van die Jaar. Dié gesogte trofee is toegeken aan die eerstespan kaptein, Ruan (Bielie) Grundelingh. Jean van der Westhuizen is as Voorspeler van die Jaar aangewys en Hansie Graaff is die Agterspeler van die Jaar.
Die klub se beste o.20 speler is Marco van Baalen.
Marinus van der Watt en Morné Human, afrigters van die eerstespan, is as Afrigters van die Jaar aangewys.
Daar is ook op gepaste wyse van die klub se jarelange bestuurder, Buks Burger, afskeid geneem, nadat hy aangekondig het dat hy gaan aftree. Hy is met ’n spesiale toekenning deur die klub vereer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.































