Local sportSport

Naka Bulle hardloop Tuks dronk, wen Lucas Strachan skild

Baie drieë en drie vyftigtalle was die kenmerk van die afgelope naweek se Castle Carltonbeker wedstryde, waarin die twee top spanne probeer het om hul punteverskil so groot as moontlik te kry om teen die halfpadmerk van die toernooi bo-aan die punteleer te eindig en sodoende die Lucas Strachan skild te probeer wen.

Saterdag se Castle Carltonbeker stryd tussen Naka Bulle en Tuks het ’n baie interessante – eintlik ironiese – aspek van dié liga en die ontwikkeling van klubrugby uitgewys.

Verby is die dae toe Tukkies in byna elke wedstyrd in hierdie liga vyftigtalle teen die “oop” klubs aangeteken het. Maar self meer ineressant is die feit dat die studente deesdae aan die ontvangkant is van loesings wat met opwindende hardlooprugby uitgedeel word.

– Die manne van die Moot het Tuks Saterdag op hul tuisveld op die sportkampus in Hatfield behoorlik dronk gehardloop en uiteindelik nege drieë ingeryg om met 59-12 te wen.

Naka Bulle het basies alle belangrike aspekte van die spel oorheers, maar hul platvorm vir hul opwindende en aanvallende spel was beslis hul baasskap in die skrums.

Met skitterende samespel tussen die 8-9-10 kombinasie van JJ Scheepers, Etienne Storm en Fiela Boshoff kon die besoekers genoeg momentum bou om sommer vroeg vir linkervleuel Frans Botha oor te stuur en daarna het die drieë op gereelde bases gekom. Die vierde drie vir hul bonuspunt het reeds in die 22ste minuut gevolg en teen rustyd was Bielie Grundelingh en sy makkers al met 40-7 voor.

Met Pretoria se onttrekking word die halfpadmerk van die liga nou na ses wedstryde bereik en Naka Bulle het dus met hierdie groot telling seker gemaak dat hulle vanjaar die Lucas Strachan skild sal wen, hoewel hulle slegs op grond van punteverskil bo die Northam Rhinos op die punteleer is.

– Harlequins het na die suidekant van die Groenkloof reservaat in Bothalaan af gereis om Centurion op hul tuisveld aan te durf.

Centurion, wat vanjaar skitterende begin het, het die afgelope drie weke skielik begin sukkel en hulle het ’n rare nederlaag gely toe Harlequins hulle met 57-39 geklop het.

Dit beteken Centurion, wat na die eerste drie bepalings nog onoorwonne was, het nou drie nederlae op ’n streep gely.

Soos die telling aandui was daar met 98 punte in die wedstryd baie opwinding, maar beide spanne se verdediging was soms substandaard.

Wat Harlequins betref, lyk dit of die inspuiting van die groep Ugandese nasionale spelers begin vrugte afwerp en of dié manne hul voete by die klub begin vind, wat beter kohesie verseker. Wanneer laas het ’n mens immers gesien dat Harlequins die skrums oorheers teen Centurion se makro agttal, soos veral in die eerste helfte gebeur het? Die tuisspan het later beter begin doen in die skrums, maar kon dit nie soos gewoonlik tot hul voordeel gebruik nie.

Harlequins het teen rustyd reeds hul bonuspunt in die sakkie gehad, nadat die woelige flank, Carling Forwood hul vierde drie kort tevore gedruk het. Telling 29-15.

Brandon Cronjé, heelagter van Harlequins, het ’n baie goeie vertoning op heelagter gelewer en baie van die span se aanvalle het om hom gesentreer.

Centurion het vroeg in die tweede helfte begin terugveg en toe Curtley Brinkhuis deurdraf vir hul vierde drie, was sake gelykop (29-elk)  met sowat 25 minute se speeltyd oor.  Vyf minute later het die tuisspan selfs kortstondig voorgeloop ná ’n strafdoel, maar ’n paar drieë teen die verloop van spel in die laaste kwart van die wedstryd het die knoop vir Harlequins deurgehaak.

In hierdie deel van die wedstryd was dit veral linkervleuel Eugene Hare, wat gewys het dat hy drieë uit niks kan maak as hy sy spoed en vaardighede behoorlik gebruik.

– In die Bosveld het die Northam Rhinos op hul tuisveld in Setara ook hul oorheersing voorlangs goed aangewend om dit as platvorm te gebruik vir hul oorwinning van 52-25 teen die Grizzlies van Tuine.

Die manne uit Pretoria se Weste het aanvanklik goed gekompeteer en teen rustyd was dit met die telling op 19-13 in die tuisspan se guns nog enigeen se wedstryd.

Toe die Rhinos egter kort na rustyd twee vinnige drieë aangeteken, was die koeël deur die kerk en hulle het die Grizzlies daarna onder druk gehou om sodoende foute uit te buit en telkens te gaan druk.

Die besoekers het oudergewoonte nooit opgegee nie en hulle was uiteindelik ongelukkig om nie ten minste hul vierde drie te druk vir ’n bonuspunt nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button