Local sportSport

Naka Bulle sluit goue jaar af met nasionale Gold Cup titel

Dit was kliphard en so spannend soos net ’n belangrike eindstryd kan wees, maar toe die eindfluitjie Saterdag blaas, is Naka Bulle vir die tweede jaar agtereenvolgens as die nasionale Gold Cup kampioen gekroon.

Toe doen Naka Bulle dit wéér teen die Northam Rhinos in ’n eindstryd.

Hierdie keer was dit egter nóg moeiliker as twee maande gelede se Carltonbeker eindstryd, toe die Bosvelders ook sterk begin het om teen rustyd voor te loop. Ruan Grundelingh en sy makkers was wel nie so ver agter soos in die Carltonbeker eindstryd nie, maar hulle moes Saterdag baie dieper delf om hul rustyd agterstand van 3-14 om te keer en daarin te slaag om dié klipharde wedstryd met 22-19 te wen.

Die groot verskil tussen die twee spanne was wéér die manne van die Moot se voorspelerspel. Northam het hul huiswerk gedoen en voorbereid gekom om ’n teenvoeter te hê vir die tuisspan se kragtige skrumwerk. Met drie voormalige provinsiale spelers in die voorryCaylib Oosthuizen (Leeus, Cheetahs en Stormers), Khwezi Mkhafu (Grens en Griffons) en Thabiso Mngomezulu (Grens) – het hulle aanvanklik daarin geslaag om die verdedigende kampioen harde bene te laat kou in die vaste skrums.

Ná rustyd het Naka Bulle se afrigter, Marinus van der Watt, egter sy troefkaart gespeel en toe Cassie Bezuidenhout, seun van die voormalige Springbok voorryman, Christo, opgetuur is in die vaskopstut posisie, het die gety begin draai. Bezuidenhout het sommer van sy eerste skrum af Oosthuizen se gal gewerk en hom in tru-rat gehad.

Saam met hul verbeterde skrumwerk het Naka Bulle se lostrio, Eckhard Boshoff, Luga van Biljon en Luhan Potgieter, asook haker Christoff Graill, die oorhand by die afbreekpunte begin kry. Hierdie twee faktore het die momentum in die tuisspan se guns geswaai en daarmee saam het die geleenthede gekom om drieë te druk.

Nadat ’n glips op die verdediging van Naka Bulle se agterspelers vroeg in die wedstryd ’n geleentheid geskep het vir die besoekers om hul eerste drie na slegs 10 minute se spel te druk, is dié aspek ook opgeskerp. Dit het die Bosvelders se skakelpaar, Percy Williams en Jade Stoffels (beide ook voormalige provinsiale spelers), genoop om op ’n winderige dag meer van taktiese skopwerk gebruik te maak.

Die gety het waarskynlik finaal gedraai toe die tuisspan se losskakel, Fiela Boshoff, ’n slim skoppie in die rooi gebied self opgevolg het, vinnig na regs gespeel het en aan heelagter Hansie Graaff die kans gebied het om sierlik oor te duik.

Skielik was Naka Bulle vir die eerste keer in die wedstryd voor op die telbord en die besoekers moes probeer terugveg. Soos dit ’n kampioenspan betaam het die tuisspan die druk verskerp en Northam het reg langs die pale ’n fatale fout gemaak, toe ’n skop afgestorm is. Buitesenter, Martin Austen, was soos ’n valk op die bal en kon die wendrie druk.

Die Rhinos het oudergewoonte geweier om te gaan lê en aanhou veg. Hulle het selfs in die doodsnikke weer gedruk vanaf ’n dryfbeweging, maar dit was té min té laat, want dié drie is ná die toeter gedruk en hulle sou wéér moes punte aanteken as hulle die gesogte Gold Cup trofee wou afrokkel.

Só het die Moot se helde dit wéér gedoen en daarmee die eerste plaaslike klub geword in die moderne era wat elke moontlike trofee beskikbaar aan Carltonbeker klubs – die Lucas Strachan-skild, die Carltonbeker én die nasionale Gold Cup klubkampioenskap in hul vertoonkas kan uitstal tot volgende seisoen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button