Jong karateka van die Moot maak geskiedenis
’n Jong karateka van Villieria het onlangs met ses goue medaljes en vier trofeë as wenner van kategorieë weggestap tydens die nasionale kampioenskap van een van die land se grootste karate-kodes.
Op die oog af lyk die 20-jarige Ryno Vosloo van die Moot na ’n vriendelike, saggeaarde jongman.
Dít is hy waarskynlik in sy allerdaagse lewe. Maar as Vosloo eers sy Shorin-Ryu karate-pak aangetrek het en sy swart gordel (tweede dan) om sy heupe vasgeknoop het, verander hy in ’n baie gevaarlike karateka, wat in staat is om homself teen die meeste gevare te verdedig.
Vosloo is lid van die Villieria Tigers Shorin-Ryu Shorinkan Karate Dojo, die oudste van sy soort in die Moot. Die Shorin-Ryu Shorinkan karate-styl het byna 50 jaar gelede in Japan ontstaan. Dit het oor die jare baie gewild geword in Suid-Afrika en tans is daar in Gauteng alleen agt Shorin-Ryu Shorinkan dojo’s (klubs), terwyl die Oos-Kaap met 12 dojo’s spog. Daar is nog ses in die Wes-Kaap, asook een in Bloemfontein in die Vrystaat.
Volsloo het dié sportsoort reeds op ’n jong ouderdom begin beoefen en vele prestasies behaal, maar wat hy tydens die onlangse nasionale Shorin-Ryu Shorinkan Karate kampioenskap vermag het, is nog nooit voorheen bereik nie.
Tydens dié organisasie se 30ste kampioenskap in Port-Elizabeth het Vosloo die eerste man ooit geword om al die beskikbare trofeë in die mans ope-afdeling tydens dieselfde kampioenskap te wen.
Die aksie tydens die kampioenskap word opgedeel in afdelings soos kata’s, wapens en direkte gevegte. Vosloo het in elk van hierdie afdelings twee goue medaljes gewen, waarna hy uiteindelik met al vier die trofeë in die ope afdeling beloon is.
Behalwe dat hy die eerste man is wat hierdie prestasie kon vermag, was hy ook in al die ope kategorieë die jongste kampioen in die geskiedenis.
Vosloo is egter nie ’n man wat op sy louere rus na sy nasionale sukses nie. Hy mik nou oorsee en wil volgende jaar sy vermoëns as karateka toets teen die beste teenstaders wat internasionaal beskikbaar is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
