Naka Bulle vereer uitblinkers na geskiedkundige seisoen
Die Naka Bulle rugbyklub kon die afgelope naweek die suksesvolste seisoen in die klub se geskiedenis vier deur die presteerders van die jaar met toekennings te vereer by hul jaareindfunksie.
“Baie dankie dat julle my genooi het. Ek is trots om as verteenwoordiger van die Blou Bulle Rugby-unie die jaareindfunksie te kan bywoon van die beste rugbyklub in die land…”
Met hierdie woorde het die president van die Blou Bulle Rugby-unie, Willem Strauss, die ongekende sukses van die Naka Bulle Rugbyklub in Pretoria se Moot in 2024 opgesom tydens sy spreekbeurt by die afgelope naweek se jaareindfunksie van die klub.
Spelers, administrateurs en afrigters van Naka Bulle kon Vrydagaand saam met hul metgeselle onder ’n markiestent op die klub se A-veld feesvier, ná hul suksesvolste seisoen ooit.
Dis nog onseker of enige ander klub in die geskiedenis van Bloubul klubrugby daarin kon slaag om al drie die top trofeë wat vir ’n klub se eerstespan op hierdie vlak beskikbaar is, te kon wen.
Naka Bulle het die 2024 seisoen afgesluit met vyf uit ’n moontlike ses trofeë. Dit sluit in die Gold Cup (nasionaal), die Carltonbeker (Blou Bulle) en die Lucas Strachan Skild (Blou Bulle), wat die eerstespan ingepalm het, terwyl die tweedespan en die o.20 span ook hul ligas gewen het. Slegs die klub se derdespan kon nie daarin slaag om silwerware te verower nie.
Tydens sy jaarverslag het die klub se president, Thinus Joubert, die sluier effens gelig oor die fondament van die klub, wat oor die afgelope dekade of wat met moeite gelê is. Naka Bulle het byvoorbeeld 550 geregistreerde jeugklub lede (ouderdom 6-18), waarvan 26 vanjaar Bloubul kleure verdien het tydens die Interprovinsiale toernooi (IPT), wat in samewerking met ander unies se jeugklubs aangebied word.
Quinton van der Merwe, voorsitter van die Naka Bulle Jeugklub, het vanjaar die prestigeryke Voorsitterstrofee ontvang vir die wyse waarop dié afdeling van die klub bestuur en bedryf is.
Dan is daar nog die Internasionale Rugby Instituut (IRI), waarskynlik die suksesvolste rugby-akademie van sy soort in Suid-Afrika, wat noue bande met Naka Bulle het. Dié instituut dien nie net as gesonde voedingsbron vir die klub nie, maar skep ook geleenthede vir jong spelers om reg oor die wêreld te speel.
– Marco van Baalen, woelige losvoorspeler van die IRI en Naka Bulle se o.20 span, wat vanjaar ook vir die Lions se o.19 span uitgedraf het, is as o.20 Speler van die Jaar aangewys.
– Die klub se 7’s speler van die jaar is Jos Farrell.
– Hannes Grobler is aangewys as die tweedespan se Speler van die Jaar.
– Wat die top toekennings vir senior spelers betref, is manne soos Boela Venter (Mees toegewyde speler); Eckard Bosshoff (Anton Beswick trofee vir verdienstelikheid); Transville Mayman (Beste vordering); Jean van der Westhuizen (‘Blood&Guts’ trofee); Ruan Grundelingh (Bul van die Jaar); Driaan Bester (beste voorspeler) en Pule Molokome (beste agterspeler) vir hul bydrae vereer.
– Die hele groep afrigters van die eerstespan is as Arigters van die Jaar aangewys, terwyl die eerstespan ook as Span van die Jaar vereer is.
– Die top toekenning van die funskie, dié van algehele Speler van die Jaar is oorhandig aan Martin Austen, die eerstespan se ramkat senter, wat met ’n bietjie geluk beslis nog ten minste Curriebeker rugby gaan speel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




























