Local sportSport

Centurion stuit Grizzlies, Naka Bulle nou enigste onoorwonne span in Carltonliga

Terwyl die ligafase van vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi einde se kant toe staan, is Naka Bulle ná ses wedstryde die enigste onwoorwonne span, nadat die Grizzlies van Tuine Saterdag pak gekry het.

Die verdedigende kampioen, Naka Bulle, is ná die afgelope naweek se Castle Carltonbeker aksie die enigste onoorwonne span in die liga, nadat die Grizzlies van Tuine hul eerste nederlaag van die seisoen gely het.

– Centurion het vriend en vyand verras deur die Grizzlies op hul tuisveld in Tuine met 36-28 te klop.

Daarmee het Jacques Potgieter se manne uit die suide wraak geneem, nadat Grizzlies hulle in Meimaand in ’n spannende stryd met een punt geklop het toe die twee spanne in Centurion slaags geraak het.

Die besoekers het Saterdag met ’n kombinasie van oorheersing deur hul voorspelers en positiewe rugby agterlangs hul teenstanders verras.

Die voormalige Bulls en Springbok flank, Jacques Potgieter, hoofafrigter van Centurion rugbyklub, (links) het onlangs die gewese afrigter van Noordelikes, Dillan Hanafey (regs) na dié klub gelok om hul agterlyn af te rig en dié belowende jong breier het reeds ’n verskil gemaak aan die 2022 Carlton kampioen se aanslag agterlangs.
Foto: Facebook

Na ’n wipplank-eerste helfte, waatydens elke span drie keer agter die doellyn gaan kuier het, was Centurion met 25-21 voor toe die twee spanne kante moes ruil.

Die tweede helfte was heelwat taaier en elke span het nog een keer gaan druk. Die verskil was egter die skopskoene van Centurion se losskakel, Cornel Korff, en heelagter Ronan McCrimmon, wat tussen hulle 12 punte met strafdoele aangeteken het.

Terwyl die besoekers se loskopstut, Theo Jordaan, ’n uitstekende vertoning gelewer het in die skrums én met sy algemene spel, het die 19-jarige McCrimmon, weer gewys dat hy ’n ster op hierdie vlak gaan word en ook ’n aanwins vir enige junior provinsiale span sal wees. Dié jongman is groot, sterk en vinnig en sy afgeronde vertonings is weekliks goud werd vir Centurion.

– Harlequins het weliswaar eerste punte aangeteken in ’n tuiswedstryd teen Naka Bulle toe heelagter Jeandré Balie ver genael het vir sy drie, maar toe die besoekers se woelige flank, Eckard Boshoff, kort daarna oordryf vir sy drie wat sake sou gelykmaak, het die manne van die Moot nie weer teruggekyk nie.

Teen rustyd het hulle reeds drie keer gaan druk om met 21-13 voor te loop.

Nog vyf drieë, wat ’n strafdrie insluit, sou in die tweede skof volg, terwyl die tuisspan slegs nog twee doele en ’n strafdoel kon byvoeg. Dit het die eindtelling op 56-30 in Naka Bulle se guns laat staan, terwyl dit ook beteken dat Quins geen ligapunte uit die stryd kon verdien nie.

Een van Naka Bulle se gevestigde sterre, die veelsydige Jack Hart, speel tans weer sy rugby in die Moot, nadat hy ’n draai in Ierland gaan maak het om klubrugby daar te speel. Hart het Saterdag as skrumskakel twee van Naka Bulle se drieë teen Harlequins gedruk.
Foto: Frans Lombard

Dis sekerlik nie onbillik om Harlequins as die teleurstelling van die seisoen te beskryf nie. Dié span speel nie swak rugby nie en het ’n paar naelskraapse uitslae beleef, maar as hul personeel op die veld in ag geneem word, moes hulle baie beter gevaar het. Daar is heelwat potensiële sterre in die Blokkiestruie se geledere, maar die manne het Saterdag hul vyfde agtereenvolgende nederlaag gely.

Quins het tans slegs drie ligapunte op die punteleer na vyf wedstryde en sal dus al drie hul oorblywende wedstryde moet wen én moet hoop dat Centurion (13 punte) of Tuks (12 punte) geen verdere ligapunte ontvang as hulle onder die top vier wil eindig nie.

– Dit is tans nog onseker of daar vanjaar halfeindstryde gespeel gaan word en of die twee top spanne direk vir ’n eindstryd sal kwalifiseer.

– Tuks bied hierdie week die USSA toernooi op hul tuisveld in Hatfield aan en sal dus vir nog ’n week nie deel van die Carltonbeker aksie wees nie.

Tuks se bestuur het twee weke gelede die ongekende stap geneem om al drie hul spanne te onttrek van hul ligaverpligtinge teen Naka Bulle om dus vrywillig ligapunte af te staan. Té veel beserings in aanloop na die USSA toernooi is as hoofrede aangegee. Hulle het nie net aan die verdedigende kampioen se drie spanne elk vyf ligapunte op ’n skinkbord gegee nie, maar volgens die kompetisiereëls ook twee strafpunte op die punteleer afgestaan weens dié ongewone belsuit.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button