Spanbou geleentheid bewys veelsydigheid van jukskei by Centurion klub
Die Centurion Jukskei-klub, wat by Jukskei Gauteng-Noord geaffilieer is en aan lede die geleentheid bied om dié sport op alle vlakke te beoefen, se fasiliteite is ook tot die beskikking van maatskappye en ander groepe om spanbou sessies by die klub aan te bied.
Jukskei is ’n sport eie aan Suid-Afrika en word steeds op verskeie vlakke en deur spelers van alle ouderdomme geniet.
Dit is een van die sportsoorte wat die langste – sedert die mid 1700’s – op georganiseerde wyse aktief in Suid-Afrika beoefen word, nadat dit op plaaslike bodem ontstaan het.
Die Centurion Jukskei-klub, met fasiliteite gesetel is op die hoek van Lenchen- en West rylane en aangrensend tot die B-veld van die Centurion rugbyklub, is ’n goeie voorbeeld van die uiteenlopende geleenthede wat die sport aan lede en besoekers bied.

Terwyl daar verskeie ernstige spelers onder die klub se lede is, verkies ander weer om die sport op sosiale vlak te speel ter wille van die kameraderie en vriendskapsbande wat gesmee word.
Lede van die Centurion Jukskei-klub speel in plaaslike ligas van Gauteng-Noord Jukskei, terwyl die geleentheid ook bestaan om aan groter toernooie soos die nasionale kampioenskap en die die jaarlikse nasionale Senior Burger toernooi deel te neem.
By die Centurion Jukskei-klub word voortdurend nuwe maniere ondersoek om die spel uit te bou, asook om fondse in te samel vir die klub. Só het personeel van die Logic Groep in Midrand onlangs met die hulp van die Centurion Jukskei-klub se bestuur ’n sosiale jukskei-dag gereël as spanbou oefening vir die maatskappy se personeel
“Ek ry gereeld by die klub verby en het ’n tyd gelede die idee gekry om ons volgende spanbou oefening hier te hou en om personeel oor alle grense heen aan jukskei bloot te stel, terwyl ons die kohesie in personeelverband in die proses verbeter,” het Johanna Maas, menslike hulpbron- en kantoorbestuurder van Logic aan Rekord verduidelik.

Foto: Koos Venter
Volgens Maas bied so ’n dag op die jukskeibane nie net aan personeel die geleentheid om nuwe vaardighede te leer deur ’n onbekende sportsoort onder die knie te kry nie, maar daar is die bonus van samesyn in die buitelug en die klub het boonop puik fasiliteite vir sosiale verkeer om die spanbou sessie af te rond.
– Spelers wat gedurende weeksdae beskikbaar is, kan sosiale geleenthede en vriendskaplike jukskei wedstryde by die klub op Woensdae bywoon. Dit begin om 09:00 in die oggend.
Voornemende nuwe lede, asook belangstellendes wat deel wil word van amptelike ligas, kan Dries Odendaal vir meer inligting kontak by 083-276-0157.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









