Local sportSport

Noordelikes kry nuwe afrigter, maak gereed vir laaste fase van klubrugby-seisoen

Hoewel die Noordelikes rugbyklub vanjaar moet aanpas in ’n nuwe omgewing tussen die Blou Bulle se Carltonbeker klubs, is daar steeds ’n vaste geloof dat ’n sterk gemeenskapsklub uit die proses gebou sal word wat teen die einde van die dekade op die hoogste vlak sal kan kompeteer.

Met die Carltonbeker liga wat reeds by die halfpad merk verby is, het die Noordelikes Rugbyklub ook hul situasie in heroënskou geneem.

Daar is algemene konsensus onder rolspelers in klubrugby onder jurisdiksie van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) dat die toekoms van die sport op hierdie vlak lê by gemeenskapsklubs. Tans is daar reeds in die Moot (Naka Bulle), Weste (Tuine Grizzlies) en Suide (Centurion) van die Tshwane Metro groot sukses met hierdie konsep, maar in die Noorde moet die model nog uitgebou word.

Verskeie rolspelers in die BBRU se klubrugby geledere het voor die seisoen besef dat daar genoeg talent, hulpbronne en moontlikhede Noord van die Magaliesberg bestaan om wel ’n kompeterende en suksesvolle gemeenskapsklub te vestig wat selfs oor ’n paar seisoene in die Carltonbeker toernooi sal kan kompeteer.

Daar is planne beraam om hierdie droom te bewaarheid, wat reeds kort na die hervatting van klubrugby in die post-Covid era in beweging gekom het by die Noordelikes Rugbyklub in Pretoria-Noord. Dié klub het ’n trotste geskiedenis en met die regte mense aan die stuur en die ondersteuning van die gemeenskap, is daar geen rede waarom Noordelikes nie voor die einde van die dekade ’n trotste en kompeterende Carltonbeker klub kan wees nie.

Die eerste stap om dié droom te laat realiseer het gekom toe Noordelikes vanjaar toestemming gekry het om hul eerste blootstellig in hierdie hoër liga te kry, ná twee goeie seisoene in die BBRU se Presidentsliga.

Daar is besluit dat Noordelikes vanjaar ten minste drie senior- en een o.20 span vir ligas sou inskryf. Die klub se eerstespan speel teen die ander Carltonklubs se tweedespanne, terwyl Noordelikes se tweedes teen die Carltonligaklubs se derdespanne kompeteer.

Noordelikes se derdespan speel vanjaar in die BBRU se Reserweliga, terwyl die o.20 span kompeteer in die BBRU se o.20 Shield-liga.

Hoewel al hierdie spanne tot dusver hierdie seisoen harde bene moes kou en die aanpassing soms taai is, is daar steeds ’n positiewe gees onder administrateurs en spelers. Almal het voor die seisoen geweet dat die proses hard gaan wees, maar die oog is op die toekoms en daar word steeds geglo dat Noordelikes op pad is na die droom om uiteindelik ’n top gemeenskapsklub te wees wat nie vir enigiemand hoef terug te staan nie.

– Intussen het Noordelikes se hoofafrigter, Dillan Hanafey, die klub verlaat nadat hy ’n geleentheid gekry het om op hoër vlak af te rig.

Die bestuur het dié pos gevul met die ervare JR Smith, ’n man wat geen bekendstelling nodig het by Noordelikes nie.

Smith het meer as 40 jaar ervaring as rugby-afrigter en hierdie sal sy tweede termyn aan die stuur van sake by Noordelikes wees.

Dié gesoute rugbyman, wat op sy dag as speler vir Noord-Vrystaat, Oos-Vrystaat en Boland uitgedraf het, is ook ’n man wat groot sukses as afrigter behaal het. Hy het in sy vorige termyn by Noordelikes tweemaal die BBRU se Reserweliga gewen, terwyl hy ook op verteenwoordigende vlak sukses behaal het met die Blou Bulle se Platteland span.

Smith het dadelik ingekoop by die klub se visie om na Carltonbeker status te streef en het reeds die teuels vasgevat om die klub se spelers gereed te kry vir die laaste deel van die huidige seisoen.

Hy het ook ’n beroep gedoen op spelers wat vanjaar nog deel wil word van Noordelikes se nuwe avontuur om hulself aan te meld. Oefeninge vind plaas op Dinsdae en Donderdae vanaf 18:30 tot 20:00.

Enige navrae kan aan JR Smith self gerig word by 064-681-5500.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button