Harlequins breek wendroogte, Naka Bulle oorrompel Grizzlies
Naka Bulle het Saterdag met ’n reuse oorwinning oor die Grizzlies op hul tuisveld in die Moot seker gemaak dat hulle vanjaar weer bo aan die punteleer van die Castle Carltonbeker toernooi sal eindig, terwyl Grizzlies se waardevolle bonuspunt hul kanse op die tweede plek versterk het het.
Terwyl die onderpresteerders in vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi uiteindelik ’n deurbraak kon maak met hul eerste oorwinning vanjaar, het die manne wat tot dusver bo verwagting presteer het se bonuspunt wat hulle Saterdag teen die verdedigende kampioen verdien het, hul kanse verbeter om in die tweede plek op die punteleer te eindig.
Dít is in kort hoe die afgelope naweek se Carltonbeker aksie beskryf kan word, nadat twee belangrike wedstryde in die tweede rondte van die toernooi afgehandel is.
– Op die tuisveld van Centurion het Harlequins, die span oor wie se vertonings almal tot dusver kop gekrap het, uiteindelik die verloor-juk afgeskud deur die tuisspan in ’n klipharde en spannende wedstryd met 23-18 te klop.
Nadat albei spanne hul rekenings op die telbord geopen het met strafdoele, het Harlequins die inisiatief geneem en veral voorlangs goeie inklim spel gelewer, wat vir hulle die nodige resultate kon lewer.

Foto: Tristan Myburgh
Buitesenter Anrich Richter het ná ’n vinnige tikskop die eerste drie vir Harlequins gaan druk en slegs twee minute later was dit voorryman, Faf Pelser, wat kon oorval toe die besoekers van die afskop af met ’n aanval begin het. Hulle het die bal die werk laat doen en met goeie interaksie tussen voor- en agterspelers weer die doellyn gehaal.
Harlequins was dus met 15-3 voor teen rustyd en Centurion moes onder druk sake probeer omkeer.
Toe Quins se flank, Jason Yoemans, kort na rustyd deurbreek vir hul derde drie, was Centurion behoorlik met die rug teen die muur met ’n punteverskil van 17 punte.

Foto: Tristan Myburgh
Die tuisspan het hul bes gedoen en hul terugvegpoging het begin met agtsteman Calvin Maduna se drie.
Kort daarna het hulle, net soos hul teenstanders in die eerste helfte, van die afskop af aangeval en 70 meter verder kon die flank, Albert Kapenda, afrond agter die doellyn.
Daarna het ’n taai armdruk-geveg van 25 minute gevolg, wat uiteindelik slegs drie punte aan elke span via strafdoele sou oplewer en die manne van Groenkloof in staat gestel het om as oorwinnaars van die veld te stap.
– Langs Meyerstraat in die Moot was Naka Bulle in ’n verwoestende bui, terwyl die Grizzlies van Tuine oudergewoonte self lus was vir hardlooprugby.
Die verdedigende kampioen het die Grizzlies van Tuine, wat in die eerste rondte van die toernooi ’n gelykop-uitslag teen hulle afgedwing het, behoorlik geroskam en tien drieë ingeryg om met 73-32 te seëvier.
Hoewel die besoekers uit die Weste die telbord aan die gang gesit het met ’n strafdoel na net drie minute se spel, het twee vinnige drieë deur die tuisspan se gevaarlike senter Martin Austen en heelagter Adam Makhari die drieëfees ingelui.

Foto: Facebook
Soos gewoonlik het Grizzlies teruggeveg en Rodwill Baatjies se drie het hulle teruggebring in die prentjie, waarna sy skakelmaat, Jan Plaatjies, met goeie ondersteunende spel ’n beweging van die afskop af kon afrond om die besoekers selfs kortstondig weer die voortou te laat neem.
Hierna het die tuisspan egter die inisiatief oorgeneem en nog vier keer gaan druk voor rustyd, om nie net hul bonuspunt te verseker nie, maar ook die voorsprong na 40-20 te rek.
Hoewel die tweede helfte nie eintlik ’n advertensie vir goeie verdediging op Carltonbeker vlak was nie, het die toeskouers egter waarde vir hul geld gekry met nog agt drieë was sou volg – vyf aan die wenspan en drie aan die besoekers.
Daarmee het Naka Bulle hul voorsprong op die punteleer gerek en verseker dat hulle eerste sal eindig, terwyl die Grizzlies ten minste ’n bonuspunt uit die wedstryd kon kry.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
