Roeiers durf koue Roodeplaat dam aan om kinderhuise te help
Die Academy for Canoe Development by Roodeplaat dam het onlangs by ’n unieke projek betrokke geraak om met ’n roei kompetisie geld in te samel vir twee van Pretoria se bekendste kinderhuise.
Pretoria beleef vanjaar ’n besonder koue winter en die meeste mense sou die afgelope tyd verkies het om Saterdag oggende so lank as moontlik onder die warm komberse deur te bring.
Vir 16 dapper roeiers van die Academy for Canoe Development by die Roodeplaat dam was hierdie voorreg egter nie ’n opsie toe hulle onlangs die geleentheid gekry het om vroegoggend op ’n Saterdag die koue water aan te durf as deel van ’n fondsinsamelingsprojek vir die Jakaranda- en Louis Botha Kinderhuise nie.
Die roeiers is in spanne van vier lede elk opgedeel en die uitdaging was om binne ’n sekere tydperk so veel as moontlik kilometers op die water te voltooi. Spanne moes elk hul eie strategie uitwerk om hierdie doelwit na te jaag.

Foto: Verskaf
Uiteindelik het die akademie se roeiers met toewyding en spanwerk hulself en vele ondersteuners verbaas deur altesaam 180 kilometer te roei.
Onder die deelnemers was Esti Oliver, gesoute Suid-Afrikaanse roei-ster en voormalige Olimpiese deelnemer. Sy het nie net self geroei nie, maar ook ’n span onder haar vlerk geneem, wat ekstra inspirasie aan die dag verleen het.
Luke Trollip, Kyle Adrmdorf en die Wilson broers, Cayden en Asher, het as die wenspan weggestap, met die Moolman gesin, Gerrie, Maryke, Martin en Lisa, kort op hulle hakke. Daar was uiteindelik slegs ’n 800m verskil tussen die voorste twee spanne.
Om die fondsinsamelingsprojek te laat slaag kon ondersteuners op twee maniere bydra – deur ’n eenmalige skenking vooraf, of deur spanne per kilometer te borg. Intussen is daar ook op ’n digitale internet platform geld vir die projek ingesamel voor die roeiers nog die koue water aangedurf het.

Foto: Verskaf
Vir baie deelnemers en ondersteuners was die groot hoogtepunt egter die feit dat inwoners van die kinderhuise saam met hul koshuisouers die dag se aksie kon bywoon en selfs kans gekry het om ook die sport te leer ken deur die water op roeibote aan te durf. Hierdie was ongetwyfeld ’n ervaring wat die kinders nie maklik sal vergeet nie.
Die dam en omgewing was dalk koud, maar die atmosfeer by die Academy for Canoe Development was warm weens emosies soos geesdrif, samehorigheid en hoop. Hierdie projek het meer as net fondse ingesamel. Dit het ook grense verskuif en ’n vonk van inspirasie gebring.
Intussen doen die bestuur van die Academy for Canoe Development ’n beroep op enige belangstellendes wat by die sport betrokke wil raak om Esti Olivier by 078-645-7462 te kontak vir meer besonderhede.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





