Tuks verydel Harlequins se uitspeelkanse in Carltonbeker toernooi
Die Castle Carltonbeker toernooi staan einde se kant toe en Harlequins se nederlaag teen Tuks die afgelope naweek het die vier kandidate vir die halfeindstryde bepaal, terwyl die orde van die derde- en vierde plekke eerskomende naweek duidelik sal word.
Met hul sterte nog in die lug ná hul sukses by die onlangse University Sport South Africa (USSA) toernooi, het Tuks se rugbyspan die afgelope naweek Harlequins se laaste kans om nog vir die halfeindrondte van die Castle Carltonbeker toernooi te kwalifiseer nekom gedraai.
Die studente het nege drieë ingeryg om hul moedige teenstander uit Groenkloof met 62-41 te klop in ’n baie opwindende wedstryd. Albei spanne het positiewe hardlooprugby gespeel, maar die verdediging was aan beide kante substandaard, soos die 16 drieë in die wedstryd getuig.
Tuks het dié wedstryd op hul tuisveld in vierde rat afgeskop en na slegs twee minute het hul kaptein en agtsteman, Hilton Gie, oorgeduik vir die eerste drie van die wedstryd.
Quins het egter nie op hulle laat wag nie en nog twee minute later het hul skrumskakel, Louis Venter, sy span se rekening geopen toe hy Tuks aan die slaap gevang het deur ná ’n vinnige tikskoppie oor te duik, nadat die tuisspan in in die rooi gebied oortree het.

Foto: Koos Venter
Venter se direkte teenstander, Jaydon Sam, het dié een-vir-my-een-vir-jou scenario drie minute later voortgesit toe hy opgevolg het nadat een van sy spanmaats ’n skop van Harlequins afgestorm het.
’n Onderskepdrie van Andile Myeni, linkervleuel van Tuks, het die patroon gebreek en toe dié sterk vleuel twee minute later sy tweede drie gaan druk was Tuks nie net ’n bonuspunt ryker nie, maar Harlequins was skielik onder druk en 19 punte agter op die telbord. Dít alles na slegs 15 minute se aksie.
Beide spanne het nog twee keer gaan druk voor rustyd, wat aan die tuisspan ’n 40-19 voorsprong besorg het.
Harlequins het na rustyd met ’n terugvegpoging begin en die eerste kwartier oorheers. Met twee drieë vroeg in dié helfte het hulle die punteverskil tot 11 laat krimp, maar ’n strafdoel deur Joshua Dampies vir Tuks het sake weer vir Quins bemoeilik. Kort daarna het nóg ’n onderskepdrie deur Myeni die druk weer laat oplaai teen die moedige besoekers.
Hoewel Harlequins uiteindelik vier keer gaan druk het in die tweede skof, kon hulle nie ten volle beheer van die wedstryd oorneem nie en Tuks het op hul foute geteer om self nog drie keer te druk en sodoende gemaklik te wen.

Foto: Koos Venter
– Harlequins moet eerskomende naweek hul laaste ligabepaling teen Grizzlies van Tuine afhandel, maar dié wedstryd sal geen invloed op enige van die twee spanne se posisie op die punteleer hê nie. Die Grizzlies kan nie meer die voorlopers, Naka Bulle, inhaal nie, maar hulle het ook genoeg ligapunte versamel om verseker te wees van die tweede plek op die punteleer.
Met Harlequins nou amptelik uit die wedloop na die halfeindstryde, sal die fokus skuif na eerskomende naweek se stryd tussen Tuks en Centurion.
Centurion sal mik vir ’n bonuspunt-oorwinning, terwyl hulle Tuks tot een bonuspunt moet beperk om seker te maak hulle eindig derde op die punteleer. Daarenteen moet die studente net wen om derde te eindig.
Die belangrikheid van die derde posisie is dat die span wat daar eindig dan die verdedigende kampioen, Naka Bulle, is die halfeindstryd vermy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
