Garsies karnuffel Monnas, Klofies val vas teen Noordheuwel
Terwyl Hoërskool Garsfontein steeds onoorwonne is in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi ná hul rekordtelling teen Hoërskool Monument die afgelope naweek, hang Hoërskool Waterkloof se kanse op kwalifisering vir die halfeindrondte aan ’n dun draadjie na hul nederlaag in Krugersdorp teen Hoërskool Noordheuwel.
Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan het Saterdag op hul tuisveld hul sewende agtereenvolgende oorwinning in die Beker-afdeling van vanjaar se Noordvaal Cup kompetisie behaal toe hulle Hoërskool Monument van Krugersdorp met ’n rekord telling van 68-17 verniel het.
Met hierdie indrukwekkende oorwinning het die Garsie Bere hul plek in die halfeindrondte van die reeks bespreek, aangesien hulle nie meer laer as vierde op die punteleer kan eindig nie.
Garsfontein se vertoning was klinies, beide op die verdediging en op die aanval.
In die eerste helfte het die Garsies hoofsaaklik verdedig met die besoekers wat meer balbesit gehad het en aggressief aanvallend gespeel het. Die Bere het egter hul klas gewys deur die enkele kanse wat hulle gekry het behoorlik te benut om rustyd met 19-10 voor te loop.
Die tweede skof was egter ’n ander storie en kort voor lank het Monnas se energie begin minder word, waarna die tuisspan met hul opwindende aanvallende benadering die bal van oral op die veld die werk laat doen het.
Hierdie aanslag het hulle in staat gestel om nog sewe drieë by die drie in die eerste helfte te voeg, terwyl die moedige Monnas die laaste halfuur basies net moes probeer om die gate toe te stop.
– Hoërskool Waterkloof moes Saterdag na die Wesrand reis om teen Hoërskool Noordheuwel – die ander top skool in hierdie liga uit Krugersdorp – kragte te meet.
Vir die Klofies was hul tweestryd met die Noories inderwaarheid die eerste van drie ligabepalings wat hulle eenvoudig móés wen om hul kanse op ’n plek in die halfeindrondte lewend te hou.
Noordheuwel het uiteindelik vyf drieë gedruk, terwyl Waterkloof slegs drie keer die doellyn kon oorsteek en dié feit het die Wesranders met 33-27 laat koning kraai.
Die Klofies het aanvanklik die eerste 20 minute van die wedstryd oorheers en ná twee voorspeler-kragdrieë deur Ruan Jacobs en Jedri Swart, asook ’n strafdoel deur losskakel en kaptein, Ronan Bastiaanse, het hulle met 17-0 voorgeloop.
Ongelukkig is hierdie momentum van Waterkloof gebreek toe die spelers ’n tyd lank die veld moes verlaat weens moontlike weerlig-gevaar. Nadat die aksie hervat is het Noordheuwel die inisiatief oorgeneem en binne twee minute hul eerste drie gaan druk.
Teleurstellende verdediging deur die besoekers het die Noories daarna in staat gestel om voor rustyd nog twee keer te druk, wat aan hulle ’n voorsprong van 21-17 gegee het teen die omdraaislag.
Na ’n taai armdruk stryd in die eerste deel van die tweede helfte het die Klofies mooi teruggeveg en ’n puik drie deur Codi Binneman, asook nog ’n stafdoel deur Bastiaanse, het hulle weer die leiding laat neem op die telbord.
Die tuisspan het egter in die laaste tien minute foute deur Klofies uitgebuit om nog twee keer te druk en die oorwinning te beklink.
– Hoewel Waterkloof byna ’n wonderwerk benodig om nog vir die halfeindrondte te kwalifiseer, is dit nie onmoontlik nie. Hul lot is egter nie meer in hul eie hande nie en hulle sal moet hoop dat nie een van EG Jansen of Transvalia enige verdere oorwinnings behaal nie, terwyl hulle self die ligafase met bonuspunt oorwinnings teen Transvalia en Monument sal moet afsluit.
– Die Hoërskool Menlopark, wat die afgelope naweek ’n loslootjie gehad het, het ook nog ’n kans om vir die halfeindrondte te kwalifiseer. Hulle het een wedstryd meer om te speel as die Klofies, maar hulle sal agtereenvolgens met Monument, Noordheuwel en Rustenburg moet afreken, terwyl hulle self op nederlae vir Transvalia en EG Jansen sal hoop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.















