Tuks klop Centurion, verseker derde plek op Carltonbeker punteleer
Terwyl Tuks die afgelope naweek hul derde plek op die Carltonbeker punteleer verseker het met hul bonuspunt oorwinning oor Centurion, het die Grizzlies van Tuine gewys dat hulle gereed is vir die uitspeelfase van die toernooi deur Harlequins op ’n indrukwekkende wyse af te ransel.
Hoewel daar een ligabepaling oorbly voor die uitspeelrondtes van vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi op 23 Augustus aanbreek, is die bepalings vir die halfeindstryde reeds bekend.
Nadat Tuks die afgelope naweek hul momentum van die vorige twee weke voortgesit het om Centurion te klop, het die studente hul derde plek op die punteleer verseker.
Harlequins se Carltonbeker seisoen is verby. Hulle het trouens reeds voor die afgelope naweek se wedstryd teen die Grizzlies geweet dat hulle nie meer onder die top vier kon eindig nie.
Hoewel Centurion op 9 Augustus nog hul laaste ligabepaling teen Naka Bulle moet afhandel, kan hulle nie meer vir Tuks inhaal nie. Dié wedstryd sal dus van akademiese belang wees. Dit is boonop reeds bepaal dat dié twee spanne mekaar weer in die halfeindstryd sal ontmoet.
Die ander halfeindstryd op 23 Augustus sal beslis word tussen die Grizzlies en Tuks.
– Die studente is sterte is in die lug ná hul USSA triomf én twee goeie oorwinnings in die pylvak van die Carltonbeker toernooi, nadat hulle ’n paar weke gelde nog in die moeilikheid was en nie kans gesien het vir hul bepaling teen Naka Bulle nie.
Tuks het die afgelope naweek op Centurion se tuisveld baie sterk begin en van die afskop af aanvallend gespeel met elke moontlike geleentheid. Die resultaat was dat hulle die tuisspan effens onkant gevang het en voor Centurion tot verhaal kon kom, was Tuks met 24-0 voor en die bonuspunt was boonop in die sakkie.
Jacques Potgieter se manne het egter baie karakter en veggees vertoon en laat in die eerste helfte met ’n terugveg poging begin. Ná twee drieë voor- en twee drieë ná rustyd, was hulle terug in die wedstryd met die telling op 24-19 in Tuks se guns.
Dreigende weerlig, wat die wedstryd vir ’n tyd lank onderbreek het, het egter Centurion se nuutgevonde momentum verbreek en nadat spel uiteindelik kon voortgaan, kon hulle net nie weer hul ritme vind nie. Tuks het boonop self in dié helfte weer tweemaal gedruk, om die wedstryd met 41-24 te wen.
– Met geen druk op enige van die twee spanne nie, aangesien die wedstryd van akademiese belang was, het Harlequins en die Grizzlies hul ligabepalings met ’n aanskoulike wedstryd – wat 13 drieë opgelewer het – op eersgenoemde se veld in Groenkloof afgehandel.
Die manne uit die Weste het veral die eerste helfte oorheers en hulle het nege drieë gaan druk om met 63-28 te wen, nadat hulle teen rustyd reeds met 56-7 voor was.
Grizzlies het in hierdie wedstryd gewys dat hulle met hul positiewe benadering beslis die skietgoed het om vir die eerste keer in hul geskiedenis vir die eindstryd van die Carltonbeker toernooi te kwalifiseer.
Mick Helena se manne sal egter hul verdediging moet opskerp, want Tuks het in die laaste twee wedstryde gewys dat hulle self enige teenstander van hul voete af kan hardloop as hulle genoeg balbesit kry.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







