Vreugde én teleurstellig vir Centurion skole in Noordvaal Cup reeks
Terwyl Hoërskool Zwartkop die afgelope naweek voortgebou het op hul momentum van voor die skoolvakansie in die Noorvaal Cup se Plaat-liga, het Hoërskool Eldoraigne se nederlaag in die Bowl-liga hul duur te staan gekom en in afdeling twee is Midstream College ná drie jaar as Stadsbeker kampioen deur Hoërskool Centurion onttroon.
Die Hoërskool Zwartkop het die afgelope naweek gewys dat hulle nie tydens die Julie skoolvakansie fokus verloor het nie, toe hulle ’n belangrike weg-wedstryd teen Hoërskool Middelburg gewen het om hul posisie op die punteleer in die Plaat-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi te verstewig.
Met hierdie weg-oorwinning het die Zwarries nie net hul onoorwonne status van die seisoen behou nie, maar ook ’n sielkundige voorsprong opgebou oor hul vernaamste uitdagers, aangesien hulle een wedstryd minder gespeel het as HTS Middelburg en Hoërskool Klerksdorp, wat tweede en derde op die punteleer lê.
Middelburg was voor die wedstyd in die vierde plek op die punteleer en net vier punte agter Zwartkop.
Saterdag se stryd was geen maklike taak nie, maar die Zwarries het baie goed begin en teen rustyd reeds met 20-5 voorgeloop.

Foto: BBRU
Die Middelburgers het hard probeer om terug te veg in die tweede helfte en die laaste vyf minute was senutergend, toe die tuisspan die gaping op die telbord tot vier punte (23-19) laat krimp het. Zwartkop het egter vasgebyt en positief gebly. Hulle kon daarin slaag om hul derde drie in die doodsnikke van die wedstryd te druk, wat die eindtelling op 30-19 te staan gebring het om Middelburg boonop ’n bonuspunt te ontneem.
– Hoërskool Eldoraigne het met ’n tuisveld nederlaag van 17-29 teen Hoërskool Dinamika van Alberton hul tweede plek op die punteleer in die Bowl-liga van die Noordvaal Cup toernooi verbeur en na die vyfde plek afgeskuif.
Die Eldo Drake sal dus hul laaste twee bepalings teen Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Merensky van Tzaneen – wat albei weg-wedstryde is – móét wen as hulle onder die top vier spanne op die punteleer wil eindig om vir die halfeindrondte te kwalifiseer.
– Op Midstream College se sportgronde het Hoërskool Centurion ’n glorieryke dag beleef, toe drie van hul vier spanne as Stadsbeker kampioene gekroon is.
Centurion se eerstespan het vir ’n opskudding gesorg toe hulle die tuisspan, Midstream College, ná drie jaar as heersende Stadsbeker kampioen in Afdeling 2 van die Noordvaal Cup reeks van hul troon gestamp het.
In ’n klipharde en spannende eindstryd het Centurion met 26-21 gewen om vir die eerste keer in baie jare weer silwerware vir hul skool te wen.
Die tweestryd tussen dié twee skole het egter nie by die eerstespanne geëindig nie, maar dit was Centurion se dag en hulle was drie keer die oorwinnaars. In die o.16 liga het Centurion met 32-24 teen Midstream gewen, terwyl die o.15 eindstryd met 7-5 in Centurion se guns geëindig het.
Midstream se o.14 span het gesorg dat hul skool darem nie heeltemal sonder silwerware eindig nie, toe hulle Hoërskool Die Wilgers met 18-7 geklop het om as kampioen gekroon te word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



