Johnnie Reitz Big-5 stoeitoernooi lok rekordgetal deelnemers
Die reuse opkoms, asook die standaard van die aksie by Noord-Gauteng Stoei se jaarlikse Johnnie Reitz Big-5 amateurstoei toernooi wat die afgelope naweek in Pretoria aangebied is, was ’n bewys van die positiewe groei wat hierdie gewilde sportsoort tans in Suid-Afrika ervaar.
Behalwe vir die jaarlikse nasionale amateur stoeikampioenskap, is die Johnnie Reitz Big-5 toernooi waarskynlik die grootste van sy soort in Suid-Afrika.
Dié unieke toernooi, wat jaarliks deur Noord-Gauteng Stoei in die Rembrandt-saal op Tuks se sportkampus aangebied word, het vanjaar ’n rekordgetal inskrywings van klubs reg oor Suid-Afrika ervaar.
Daar was ook ’n span uit Namibië teenwoordig, wat aan die toernooi oudergewoonte ’n internasionale status verleen het.

Foto: Koos Venter
’n Reuse rekordgetal van 1526 stoeiers van 62 klubs het vir die toernooi ingeskryf, wat perspektief gee oor die groot taak wat die organiseerders gehad het om al die aksie af te handel en die logistiek rondom die dag se verrigtinge te hanteer.
Die bekende Rembrandt-saal was ’n miernes van bedrywighede, terwyl die aksie deur die dag onophoudelik op agt verskillende stoeimatte voortgegaan het.
Een van die unieke aspekte van hierdie toernooi is die medaljes wat stoeiers ontvang. Dié medaljes word jaarliks versier met een van Suid-Afrika se Groot-5 diersoorte agterop. Dié medaljes maak die toernooi ekstra gesog, aangesien elke stoeier graag ’n vol stel met elk van dié diere daarop wil besit.
Vanjaar was dit die Renoster se beurt om op die medaljes te pryk.
Volgens Andy Patrick, president van Noord-Gauteng Stoei, oorweeg hulle om die toernooi in die toekoms oor twee dae aan te bied, aangesien dit in gewildheid toeneem. Dit sal volgens Patrick ook die moontlikheid van meer internasionele deelname verbeter.
Noord-Gauteng Stoei het vanjaar ekstra moeite gedoen om die toernooi self meer waardevol te maak vir klubs wat van ander provinsies moes reis. Daar is verlede week ’n spesiale oefenkamp aangebied by die Camp Discovery sportfasiliteit naby Pretoria, waar stoeiers op die vooraand van die Johnnie Reitz Big-5 toernooi kon baat uit spesiale afrigting- en oefensessies, waarby internasionale afrigters uit Suid-Afrika, Amerika, Namibië en Ecuador betrokke was.
Hoewel die meeste van die stoei aksie by die toernooi in die meer algemene Vrystyl kategorie plaasvind, word gevegte in die Grieks-Romeinse styl ook aangebied.
Hierdie toernooi is ook jaarliks ’n goeie barometer om te sien hoe amateurstoei onder vroulike deelnemers in gewildheid toeneem. Al hoe meer jong meisies sluit by stoeiklubs aan en bewys hul vaardighede op die mat tydens die toernooi.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



