Grizzlies se Carltonbeker prestasies lei tot rugbygeskiedenis in weste van Pretoria
Groot opgewondenheid heers in die weste van Pretoria, nadat dit bekend geword het dat rugby geskiedenis binnekort gemaak gaan word as die Blou Bulle ’n amptelike Curriebeker wedstryd op die Grizzlies se veld in Tuine gaan speel.
Die merkwaardige verhaal van die herrysing van klubrugby in die weste van Pretoria het daartoe gelei dat daar oor die naweek van 23 en 24 Augustus rugbygeskiedenis op Grizzlies Park by die Tuine Sportklub gemaak gaan word.
Nadat die Grizzlies se rugbyspanne tot dusver vanjaar ’n droom-seisoen beleef het, gaan dié klub nie net ’n Carltonbeker halfeindstryd aanbied nie, maar 24 uur nadat die tuisspan teen Tuks in dié geskiedkundige wedstryd gaan opdraf, sal Grizzlies Park wéér geskiedenis maak wanneer die Blou Bulle teen die Griekwas daar in ’n amptelike Curriebeker wedstryd in aksie sal wees.
Al drie die Grizzlies se senior spanne in die Castle Carltonbeker liga het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Dié wedstryde sal dus op Saterdag 23 Augustus op Grizzlies Park afgehandel word.
Die klub se o.20 span het óók reeds hul plek in die Blou Bulle se o.20 Bowl liga bespreek, waar hulle teen Naka Bulle te staan gaan kom.
Weens die Grizzlies se skitter-seisoen tot dusver én weens hul uitsonderlike fasiliteite, het die bestuur van die Blou Bulle besluit om die Curriebeker wedstryd tussen die Bulle en Griekwas ook na Tuine Sportklub se veld te skuif.
Hierdie verwikkeling sal geskiednis maak vir die Tuine Sportklub, aangesien dit die eerste keer ooit sal wees dat Curriebeker rugby in die weste van Pretoria op ’n klubveld gespeel sal word.
Die wedstryd sal om 15:00 afskop. Kaartjies vir die hoofpaviljoen én ander sitplek rondom die veld sal uiteraard beperk wees en kan by TicketPro gekoop word. Die klub sal ook twee BBP-areas inrig waarvoor die publiek vooraf tafels kan boek.
Volgens die klub se bestuur kan die terrein 1000 motors hanteer en die hekke sal reeds om 09:00 die oggend oop wees, waarna besoekers teen R100 per motor op die terrein kan parkeer op ’n basis dat elke voertuig volgens aankoms gediens sal word.
Navrae vir die BBP-pakette kan by Jeanette Olivier by 083-483-1002 gedoen word.

Foto: Tristan Myburgh
– Intussen is vanjaar se Castle Carltonbeker ligafase die afgelope naweek afgehandel met die laaste ligabepaling wat tussen die verdedigende kampioen, Naka Bulle, en Centurion op eersgenoemde se tuisveld in die Moot gespeel is.
Naka Bulle het aanvanlik harde bene gekou teen ’n sterk aanslag van die besoekers uit die suide en kort voor rustyd was Centurion nog voor op die telbord.
Twee drieë deur Naka Bulle in die laaste twee minute voor die omdraaislag het egter die wind uit Centurion se seile geneem. In die tweede skof het die damwal gebreek en Naka Bulle het uiteindelik nege keer agter die doellyn gaan kuier om met 55-24 te wen.
Dié twee spanne sal mekaar dus weer op 23 Augustus op dieselfde veld aanvat in die een halfeindstryd van die Castle Carltonbeker toernooi.
Soos hierbo genoem sal die ander halfeindstryd op tussen die Grizzlies en Tuks 23 Augustus by die Tuine Sportklub plaasvind.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
