Naka Bulle en Grizzlies deur na Carltonbeker eindstryd
Terwyl Naka Bulle oor twee weke die kans kry om hul titel as Carltonbeker kampioen te verdedig, sal die Grizzlies van Tuine geskiedens maak deur in hul heel eerste Carltonbeker eindstryd ooit te speel.
Klubrugby geskiedenis word op Saterdag 6 September gemaak, wanneer die verdedigende kampioen, Naka Bulle en hul bure uit die weste van Pretoria, die Grizzlies van Tuine, mekaar in die eindstryd van die Castle Carltonbeker toernooi sal pak.
Dit volg nadat die twee spanne die afgelope naweek onderskeidelik met Centurion en Tukkies afgereken het in die halfeindstryde.
– In Meyerstraat in die Moot het Naka Bulle ’n moedige poging van Centurion afgeweer om hul halfeindstryd met 46-19 te wen.
Centurion het beslis nie in die Moot opgedaag om die wedstryd as ’n formaliteit af te handel nie. Dié span van Jacques Potgieter is voor die seisoen deur baie klubrugby liefhebbers afgeskryf, nadat hulle vanjaar ’n nuwe era moes begin sonder verskeie ou staatmakers.
Tog was Centurion regdeur die seisoen kompeterend en Saterdag het hulle met ’n reuse aanslag teen die verdedigende kampioen begin. Die eerste helfte was ’n armdruk-stryd en sekondes voor die omdraaislag was die besoekers nog met 12-14 voor.
Die tuisspan het egter met die rustyd-toeter in hul ore hul derde drie gaan druk om die tweede skof met ’n 17-14 voorsprong te begin.
Hoewel Centurion die eerste twintig minute na rustyd nog bygehou het, het Naka Bulle se stadige gif, wat oudergewoonte met hul oorheersing voorlangs begin het, stelselmatig begin werk. Die drieë het meer geword en die gaping op die telbord al hoe groter.
– In Tuine is die scenario van die twee ligabepalings tussen die Grizzlies en Tuks vroeër hierdie seisoen herhaal in nóg ’n opwindende stryd waartydens albei spanne bereid was om ondernemende hardlooprugby te speel.
Weens opgeknapte verdediging en oorheersing van die vaste fasette het die tuisspan egter hierdie keer oorheers en uiteindelik met 57-26 gewen.
Tuks het vroeg reeds die telbord aan die rol gesit, maar die manne van Tuine het oudergewoonte gou teruggeslaan en self hul rekening geopen.
Die Grizzlies het Tuks se aanvalle uit elke moontlike hoek van die veld effektief met aggressiewe verdediging gesmoor.
Teen rustyd was die tuisspan in beheer van sake met die telling op 29-7. Hulle kon vroeg in die tweede skof selfs nog twee keer gaan druk, voordat Tuks met ’n terugvegpoging vorendag probeer kom het. Dié poging is egter veral gesmoor weens hul gesukkel in die vaste fasette.
Met losskakel Rodwill Baatjies en heelagter Lusanda Xakwana aan die voorpunt, het die Grizzlies op hul beurt die studente se verdediging met knaende teenaanvalle getoets. Dié benadering het hul gereeld agter die doellyn laat eindig en die telbord aan die rol gehou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





































