Ramcat Fishing kies nuwe terrein vir gestremdes se hengelfees
Dis weer tyd vir die jaarlikse Ramcat Fishing hengelfees vir gestremde hengelaars wat vanjaar, ná twaalf suksesvolle jare in Centurion, by ’n nuwe terrein aangebied gaan word.
Ramcat Fishing se 13de hengelfees vir gestremde hengelaars sal vanjaar op ’n nuwe terrein aangebied word, maar volgens die organiseerders is daar wel voordele vir hengelaars langs dié dam.
Gerard Smal en sy helpers bied reeds sedert 2013 aan gestremde hengelaars die geleentheid om jaarliks tydens hul twee hengelfeeste – een in Pretoria omgewing en een in Durban – ’n dag lank langs die viswater te ontspan en te kuier, terwyl hulle bederf word deur Ramcat Fishing.
Hierdie hengelfeeste gaan oor meer as net die kans om lyne nat te maak. Dit gaan ook oor die geleentheid om saam met mede gestremdes, asook familie en vriende te kuier, terwyl Ramcat Fishing hulle bederf met heerlike kos en iets om te drink.

Foto: Koos Venter
In die Pretoria omgewing het hierdie hengelfees ’n instelling geword by die Irene Country Lodge in Centurion. Ongelukkig is dié fasiliteit intussen verkoop en die nuwe eienaars was nie te vinde vir die aanbieding van die tradisionele hengelfees nie.
“Ná een van ons suksesvolste hengelfeeste in ’n lang tyd in Durban vanjaar, moes ons hier in die Pretoria omgewing dringend ’n nuwe terrein vind om die gestremde manne en dames se dag moontlik te maak. Uiteindelik het ons ’n terrein en dam gevind by die Zonderwater Gevangenis aan die oostelike buitewyke van die Tshwane Metro,” het Gerard Smal van Ramcat Fishing aan Rekord gesê.
Volgens Smal is daar wel voordele aan hierdie skuif, want die bestuur van die hengelklub op Zonderwater het hom verseker dat dié dam wemel van verskeie soorte vis – nie net babers nie. Dié dam is veral bekend vir die stewige karps wat daar uitgetrek word.

Foto: Koos Venter
Die Zonderwater terrein is maklik bereikbaar vanaf die N4 snelweg. Neem die Rayton/Cullinan afrit (R515) en volg dit deur Rayton. Zonderwater is geleë op die regterkant net voor Cullinan. Alternatiewelik kan die R513 (verlenging van Sefako Makgatho/Zambesi-weg in ‘n oostelike rigting) gevolg word en dan regs gedraai word in die R515 om die terrein op linkerhand te vind.
Gestremde hengelaars wat instryf kan bygestaan word deur ’n helper.
Saam met die verskuiwing van terrein is daar ook ander verandering, soos dat die hengelfees vanjaar op ’n weeksdag (Donderdag 4 September 2025) aangebied word.
Registrasie vind reeds vanaf 07:00 die oggend plaas en die hengelfees duur tot 14:00.
Vir meer inligting, skakel Gerard (Yster) Smal by 081-754-8144.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
