Local sportSport

Naka Bulle behaal uitsonderlike driekuns as Carltonbeker kampioen

Naka Bulle het Saterdag geskiedenis gemaak deur hul derde agtereenvolgende Carltonbeker titel in te palm in ’n eindstryd wat ongelukkig vir die verkeerde redes onthou sal word en inderdaad in ’n reuse antiklimaks ontaard het ná ’n baie interessante seisoen.

Die Naka Bulle rugbyklub se eerstespan het Saterdag op hul tuisveld geskiedenis gemaak toe hulle die Castle Carltonbeker toernooi vir ’n derde jaar agtereenvolgens gewen het.

Ruan (Bielie) Grundelingh en sy makkers het die moedige Grizzlies van Tuine in die eindstryd met 62-22 geklop om hul oorheersing in die liga voort te sit.

Hoewel Naka Bulle ongetwyfeld ’n waardige en welverdiende kampioen is, sou hulle waarskynlik self die draaiboek vir dié eindstryd anders geskryf het as hulle kon.

Na groot verwagting vooraf, was die wedstryd ongelukkig ’n reuse antiklimaks, ontsier deur vier geelkaarte in die bestek van 12 minute in die eerste helfte, wat beteken het dat die Grizzlies op een stadium met slegs 11 spelers moes klaarkom. Hul skakelpaar was op daardie stadium albei op die strafstoel.

Toe die eerste geelkaart uitgedeel is ná slegs agt minute se spel, was die telling 5-elk. Toe die Grizzlies halfpad deur die eerste helfte uiteindelik weer voltalling was, het Naka Bulle reeds hul vyfde drie gedruk en met 29-5 voorgeloop. Die stryd was op daardie stadium effektief verlore vir die manne van Tuine.

Steeds was dit nie die einde van die bisarre sameloop van omstandighede in hierdie eindstryd nie, aangesien spel in die tweede helfte boonop vir meer as ’n halfuur gestaak is weens dreigende weerlig.

Hoewel die besoekers nooit gaan lê het nie en in die tweede helfte twee keer gaan druk het teen Naka Bulle se drie besoeke aan die doelgebied, was die skade in die eerste helfte te groot om reg te stel.

– Met hierdie oorwinning het Naka Bulle hulself in die annale van Bloubul klubrugby verewig. Dié klub is amptelik slegs die vierde klub in die geskiedenis van Carltonbeker rugby wat daarin slaag om ’n uitsonderlike driekuns te behaal deur die gesogte Carltonbeker drie jaar agtereenvolgens te wen.

Slegs die nou gestorwe Pretoria Polisie rugbyklub (Bobbies), die Universiteit van Pretoria (Tuks) en die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT, voorheen Technicon Pretoria) kon dit sedert 1938 regkry. Trouens, beide dié eersgenoemde twee klubs het dit meer as een keer reggekry, terwyl hulle albei ook by meer as een geleentheid daarin geslaag het om dié prestasie selfs verder te verbeter na vier of meer agtereenvolgende seisoene as kampioen.

Polisie het dit agt jaar in ’n ry gedoen tussen 1943 en 1950, hoewel hulle in 1948 die beker met Pretoria en in 1949 weer met Harlequins gedeel het.

Die Carltonbeker spanne van Centurion en Harlequins was Saterdag in die hoof voorwedstryd vir die eindstryd betrokke by ‘n uitspeelwedstryd, wat ook as voorbereiding vir die twee spanne se Gold Cup veldtogte kon dien. Centurion het met 28-22 gewen.
Foto: Tristan Myburgh

Daarna het die Bobbies weer ’n driekuns behaal van 1955-1957, terwyl hulle tussen 1994 en 1997 weer vier jaar agtereenvolgens as kampioen gekroon is.

Tuks het die 1970’s en 1980’s oorheers met vier agtereenvolgende oorwinnings tussen 1975 en 1978, terwyl hulle dié prestasie weer tussen 1982 en 1985 herhaal het.

Vroeg in die nuwe millenium het TUT by Polisie en Tuks aangesluit deur die Carltonbeker tussen 2003 en 2005 drie jaar agtereenvolgens te wen.

Die laaste driekuns voordat Naka Bulle Saterdag by die Bobbies, Tuks en TUT aangesluit het, was dié van Tuks tussen 2013 en 2015.

– Naka Bulle sal nou saam met Harlequins en Centurion deelneem aan die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi, wat op 27 September afskop.

– Naka Bulle se triomf het nie by hul eerstespan geëindig nie. Die klub se tweedespan het vroeër Saterdag in ’n taai eindstryd met Tuks se Fezelas afgereken (41-35) om ook as kampioen gekroon te word.

– Vir die Grizzlies was daar die troosprys dat hul derdespan silwerware vir die klub kon inpalm deur Tuks se derdes met 20-7 te klop.

– Centurion kan spog dat hulle die beste o.20 span in die Blou Bulle se opwindende en kompeterende o.20 ligas het. Dié klub het in die eindstryd van die top Beker-liga met Tuks se Young Guns afgereken (47-7).

– In die o.20 Bowl liga het die Grizzlies hul diepte met die oog op die toekoms gewys deur Naka Bulle se B-span, die Wildebeeste, met 42-34 te verlsaan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button