Top amateur boksers in aksie by Tuine Tiere se Box & Dine toernooi
Die vuiste gaan weer eeskomende Saterdag klap wanneer Tuine Tiere boksklub een van die opwindendse amateur bokstoernooie van die jaar in die vorm van ’n Box&Dine gaan aanbied by die bekende Dorsland Restaurant&Teater in Zandfontein in die weste van Pretoria.
Terwyl amateur boks veral in Gauteng steeds van krag tot krag gaan, bly die Tuine Tiere een van die mees aktiewe klubs in Pretoria en dié klub bied eerskomende naweek in samewerking met RJ79 Events hul tweede Box&Dine toernooi van die jaar aan.
Op Saterdag 13 September sal die vuiste weer klap by die bekende Dorsland Restaurant & Teater in Rooikapok straat, Zandfontein, in die weste van Pretoria. Dorsland word bereik via die bekende Van Der Hoffweg, en Rooikapok straat draai links uit dié pad, net wes van die afrit na die bekende Mahem renbaan.
Hierdie toernooi sal aangebied word onder die naam Warrior vs Soldier en verskeie Suid-Afrikaanse amateur kampioene sal in aksie wees.
Die boksers sal reeds teen 11:00 inweeg en die aksie sal om 14:00 Saterdagmiddag begin. Volgens die organiseerders sal daar in terme van die styl van boksers iets vir elke smaak op die program wees – van meer wetenskaplike boksers tot die manne wat die pap dik gaan aanmaak die oomblik as die eerste klok lui.
Daar word uitgesien na verskeie van die gevegte by die toernooi, waar die beste plaaslike amateurs teen uitdagers van oral uit Suid-Afrika in aksie sal wees.

Foto: Verskaf
– Lara Netshidamboni van Hugenote boksklub in Johannesburg veg teen die hoogaangeskrewe Chris Ndlovhu van die Champs boksakademie in Tzaneen, Limpopo.
– Christo Lewis (80kg) van Transwerke boksklub in pretoria is die huidige SA kampioen en hy veg teen Janneman Wessels van Middelburg.
– Twee van die plaaslike sterre, die Brown broers Sebastiaan (teen Steven Mhlango) en Gideon (teen die SA kampioen Worship Chauke) sal albei in aksie wees. Mhlango en Chauke reis uit Limpopo vir die toernooi.
– In die super-swaar gewigsafdeling sal Adam Azam van Tuine Tiere en Calvin Jooste van die Shape Up boksklub in die noorde van Pretoria in aksie wees en dié geveg beloof ook vuurwerke.
– Die hoofgeveg van die aand is een vir die puriste, wanneer die hoogaangeskrewe Jonathan Swart, wat spreekwoordelik as bokser met die hand grootgemaak word deur die legendariese Charles Backhouse, in aksie wees teen die ervare Ivanu (Guru) Kabane van die Muscle boksklub in Bethlehem. Hulle sal veg in die ligswaargewig afdeling.
Kaartjies vir die Box&Dine toernooi is beskikbaar by https://tixsa.co.za/ Vir meer inligting, doen navraag by epos: rj79events@gmail.com
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
